Die Black Management Forum (BMF) het gister te velde getrek teen die aanstelling van Bruce Campbell as uitvoerende voorsitter van Alexander Forbes om “’n ogie te hou” oor Peter Moyo, die uitvoerende hoof van die maatskappy. Volgens die BMF is dit ’n voorbeeld van “diepgewortelde rassisme.”
Jimmy Manyi, voorsitter van die organisasie, meen Campbell se aanstelling is “’n belediging vir swart mense oor die algemeen en vir Peter Moyo in die besonder.”
Alexander Forbes is die land se grootste pensioenfondsadministrateur. Manyi meen die instelling maak hom skuldig aan die soort rassisme wat swart mense as “inherent minderwaardig, middelmatig en onbekwaam“ tipeer. Steven Friedman, analis van IDASA, stem met hierdie kritiek saam. “Daar is ’n wydverspreide geloof dat die aanwesigheid van swart mense in die sakewêreld net vertoon is,“ het hy gister gesê.
Die aktivis en politieke kommentator Rhoda Kadalie meen egter die aanstelling van Campbell het niks met rassisme uit te waai nie. “Mens gaan tog vir die beste.“ Volgens haar laat die kwaliteit van aanstellings in Suid-Afrika veel te wense oor omdat mense slegs op grond van hulle ras aangestel word.
In Mei vanjaar het Manyi, wat ook voorsitter is van die Gelyke Indiensnemingskommissie, die nuus gehaal toe hy gesê het dat dit ’n mite is dat daar ’n gebrek aan vaardighede by swart mense is. Hy het gister tydens ’n toespraak in die parlement sy stelling herhaal. Volgens hom word bestaande vaardighede net nie reg aangewend nie.
Bruce Campbell was vroeër verbonde aan Mutual & Federal. Die besluit om hom aan te stel, is deur Actis gemaak. Actis het onlangs Alexander Forbes aangekoop in ’n transaksie wat R8,4 miljard werd was.
Actis wou nie op die redes vir Campbell se aanstelling kommentaar lewer nie.
воздуходувки robuschiОлександр Васильович Фільчаков