“Verder behoort veiligheid nie ’n probleem vir die ANC se verteenwoordigers te wees nie, want die nasionale minister van veiligheid (Charles Nqakula) beskou misdaad mos as onder beheer,” het Jankielsohn gesê. Volgens hom is nagenoeg R728 000 spandeer om veiligheid by die huis van die plaaslike minister van openbare werke, paaie en vervoer te verbeter.
Neo Masithela, minister van toerisme, omgewingsake en ekonomiese aangeleenthede, het R730 000 se verbeteringe ontvang, terwyl die huis van die voormalige minister vir veilligheid, Playfair Morule, teen die bedrag van R728 000 beveilig is. ’n Verdere bedrag van R495 000 is uitgegee op die huis van Susan Mnumzana, die plaaslike minister van landbou.
Veiligheidsmaatreëls het die oprigting van hoë mure, die installering van elektroniese heinings bo-op mure, veiligheidskameras, spesiale beligting, alarmstelsels en veiligheidshekke ingesluit. Jankielsohn meen die regering se belangrikste taak is om sy burgers te beskerm en nie net politici nie.
