"Tussen hulle is 118 Senegalese, 61 uit Guinee-Bissau en 9 Guineërs. Hulle het vanaf Casamance (die suide van Senegal) vertrek minder as twee dae gelede," het die woordvoerder gesê. Die onwettige immigrante is na Dakar geneem waar hulle aan ‘n internasionale organisasie oorhandig is. Die vier Senegalese mensesmokkelaars sal, na wat verneem word, nie aangekla word nie en is reeds vrygelaat.
Senegal is een van die grootste uitvoerders van onwettige immigrante wat vanaf dié land probeer om Spanje se Kanariese Eilande te haal om sodoende toegang tot die vleispotte van Europa te verkry. ‘n Soortgelyke operasie het op 18 Augustus byna ‘n honderd onwettige immigrante opgelewer, volgens die Senegalese polisie.
Frontex, wat sedert 2006 in samewerking met Wes-Afrika probeer om die Spaanse kus vir onwettige immigrante ontoeganklik te maak deur patrollies, meen dat hulle sukses behaal en Dakar en Madrid het aangekondig dat hulle hul gemeenskaplike poging sal verleng tot Julie 2008. Die hoofkwartier van die Frontex-organisasie is in Warskou en dit is in die lewe geroep om te probeer om die onwettige immigrasiestroom af te sny sodat swart Afrikane Europa nie per see of lug kan bereik nie.
Tans is twee patrolliebote, ‘n vliegtuig en Spaanse helikopter, asook ‘n Italiaanse vliegtuig ter beskikking gestel om Senegal se kus te bewaak en te keer dat onwettige immigrante Europa bereik. Verlede jaar is meer as 31 000 klandestiene reisigers geregistreer. Danksy verskerpte maatreëls is die aantal onwettige immigrante vir die eerste kwartaal egter laer as verlede jaar.
