Departemente verloor miljoene

Die Staatsdienskommissie het gister bekend gemaak dat meer as R45,6 miljoen weens wanbesteding in nasionale en provinsiale staatsdepartemente verlore gegaan het in die 2005/06 finansiële jaar.

Volgens die verslag wat gister vrygestel is, was daar in die vorige finansiële jaar 771 gevalle van “finansiële wanbestuur.“ In die voorafgaande jaar was daar 513 insidente. Van die R45,6 miljoen wat verlede jaar verlore gegaan het, is slegs R3,2 miljoen teruggekry. Volgens Stan Sangweni, voorsitter van die Staatsdienskommissie, kan daar selfs meer geld ter sprake wees, aangesien nie alle departemente die bedrae wat hulle vermis aangegee het nie.

Insidente wissel van bedrog en diefstal, wat 64,7% van die sake verteenwoordig, tot ongemagtigde uitgawes, growwe nalatigheid en diverse vorme van korrupsie.

Die departement van grondsake het R20 miljoen weens “finansiële wanbestuur“ verloor. Die Oos-Kaap was die provinsie met die meeste insidente (173), gevolg deur die Wes-Kaap met 75 gevalle.

Provinsiale departemente in Gauteng het maar ses gevalle aangemeld, wat Sangweni se stelling staaf dat nie almal gehoor gegee het aan die oproep om insidente van wanbestuur aan te meld nie. “Sommige departemente is belangeloos oor korrekte verslaggewing of beskik nie oor die kapasiteit omn behoorlike aandag aan akkurate verslaggewing te bestee nie,“ meen hy.

Die Staatsdienskommissie beplan nou om departemente te dwing om elke maand verslag te doen en om die verantwoordelike beamptes voor die kommissie te daag indien hulle versuim om dit te doen. Tans verplig die Korrupsiewet finansiële beamptes slegs om wanbestuur aan te meld as die bedrag R100 000 of meer beloop. Dit sal binnekort verander word om laer bedrae ook te akkkommodeer.

 

гофра для отвода выхлопных газов генераторалобановский александр

Maak 'n opvolg-bydrae