Die voormalige parlementslid en leier van die Vryheidsfront Plus in Pretoria, Willie Spies, het met onmiddellike ingang uit die party bedank. Die redes vir Spies se bedanking is oënskynlike spanning tussen die party en Afriforum, sy huidige werkgewer, met as bykomende faktor die adjunkministerskap van dr. Pieter Mulder in die ANC-kabinet.
In sy bedankingsbrief wat wyd in die geledere van die party en daarbuite gesirkuleer is, verklaar Spies dat “die party sy morele bodem verloor het” weens die “onverkwiklike situasie” wat uit Mulder se aanvaarding van die adjunkministerskap onstaan het. Die VF Plus-jeugleier, Cornelius van Rensburg, is verlede jaar deur die party gedissiplineer weens sy openbare standpunt téén Vryheidsfront-deelname aan die ANC-regering. Desnieteenstaande het Van Rensburg sy setel in die Pretoriase stadsraad (Tshwane-metro) behou.
Dr. Conrad Beyers, wat vroeër vanmôre ‘n verklaring oor die party se veldtog in Pretoria vir aanataande jaar se munisipale verkiesings uitgereik het, het telefonies teenoor praag.co.za bevestig dat hy “onder druk geplaas is om die verklaring terug te trek”. Hoewel Spies se bedanking oënskynlik verband hou met die interne debat binne die Vryheidsfront Plus aangaande dr. Pieter Mulder se adjunkministerskap, was die werklike oorsaak waarskynlik die krapperigheid tussen die Vryheidsfront Plus en die vakbond Solidariteit en burgerlike organisasie Afriforum.
“Ek betreur dit,” het dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid in Pretoria gesê. “Uiteindelik veg sowel ons party as Afriforum die Afrikanersaak. Ek kan daarom nie insien waarom Afriforum en Willie Spies eksepsie geneem het dat ek van Afriforum in my verklaring melding gemaak het nie.”
In sy bedankingsbrief verwys Spies na ‘n “koue oorlog” wat die uitvoerende dagbestuur van die Vryheidsfront Plus teen Solidariteit en Afriforum voer. “Terwyl hierdie koue oorlog onder die oppervlak gevoer word, skroom die party nie om na buite deurlopend en ten onregte by AfriForum en Solidariteit aan te klamp nie,” het Spies gesê.
In sy reaksie op die bedanking het mnr. Jaco Mulder, leier van die VF Plus in Gauteng, gesê dat dit “tragies is dat leiers van organisasies hulself bo die saak waarmee ons besig is, stel.”

Metrorail-treine tussen Johannesburg en Vereeniging is weer aan die gang, het ‘n woordvoerder Dinsdag gesê.

Die VF Plus het gesê dat die party amptelik eis dat die Tshwane-metroraad korting ter waarde van drie maande se belasting vir vullisverwydering aan inwoners toestaan. Dit volg nadat nog ‘n onderbreking in vullisverwydering hierdie week ondervind word vanweë ‘n staking.
Vonke het behoorlik gespat by ‘n elektrisiteitskonferensie oor voorgestelde tariefverhogings, met ‘n ekonoom wat ‘n senior Eskom-bestuurder gekonfronteer het oor sy aanspraak dat die pryse “regtig” nie so hoog is nie.
Volgens kollegas en vriende van die veteraanjoernalis Chris Louw het hy selfmoord gepleeg deur hom met ‘n AK-47 op die dak van sy huis te skiet. Blykbaar het Louw, ‘n voormalige redakteur van RSG se aktualiteitsprogramme Monitor en Spektrum, finansiële probleme gehad en is daar die afgelope tyd ook 40 keer by sy huis op ‘n kleinhoewe by Silkaatsnek tussen die Hartebeespoortdam en Brits ingebreek.