Dit is laatmiddag as Hopping Cartoon, die Amasone-skreeu-aap, al kwetterend deur die takke vleg na die groot wit boomhuis in die hoogste boom. Die boom waar die Monica-passaat die hardste waai.
Hy vloog die boomhuis by ‘n opening in en skuif oor die growwe plankvloer voor hy amper teenaan ‘n groot aap tot stilstand kom. Die plankvloer is al vol naelmerke soos klein apies hul beste voet voorsit vir die groot indoena.
“Vir wat raas jy so?” wil Jimmy Cartoon, die eiland se groot indoena vererg weet.
“Maar ek word mos betaal om u Mbongi te wees” verweer die klein apie hom seergemaak.
“Ja, ja, goed, maar waarom is jy hier?” wil die aap met die groot voortande weet. Glo van te veel grondboontjies vreet.
“Ons is geblaas…ons is geblaas!” babbel die skreeu-apie opgewonde terwyl hy van meubelstuk tot meubelstuk spring.
“Waarmee is ons geblaas?”
Die groot aap ken vir Hopping en weet hy moet hom nie onnodig vir die fyngevoelige dingetjie vererg nie.
“Twee ouens op die suidelike eiland het die aap betrap wat een van hul studenteleiers vir ons sens..sens…”
“Sensiteringsaksie” voltooi Jimmy die woord, nie min trots daarop nie dat ‘n aap so ‘n groot woord soos daai kan onthou. Veral ‘n groot aap soos hy.
“Ja!” gil Hopping.
“Daai woord! Twee van hul ape het ons aap betrap!”
Jimmy frons ‘n oomblik, maar dan is dit of hy ontspan.
Hy staan op en stap na die balkon.
Onderweg loop hy ‘n paar muntstukke wat op die vloer gelê het by en skop dit dat dit doer trek, oor die kant van die balkon en tussen die bome in verdwyn.
Dan praat hy afgemete.
“Eintlik is die operasie al ver gevorder. Ek is seker ons sal kan keer dat die twee karnallies te veel skade aanrig. Hul eie ape sal daarvoor sorg”.
“Soos u sê”, sê Hopping, sy voorkop die ene plooie.
“Die geldmag?” vra hy.
Die groot aap skud sy kop. “Nee, nie die geldmag nie. Sommer net ons wat onsmentaliteit op al die eilande wil afdwing.”
Hopping vra nie verder nie.
Die twee ape maak hulle gemaklik sit op die balkon, terwyl hulle behaaglik na vlooie krap. Dit het ondertussen donker geword, maar die maan skyn oor die boomtoppe.
“Ek wonder hoeveel mane is daar?” spreek Hopping ‘n gedagte uit wat menige aap gereeld kwel.
“Ons weet nie, want ons is net ape” mymer Jimmy, wat ook maar dikwels met die maan gepla is.
“Ek wonder of daar ooit intelligente lewe iewers in die heelal is?” filosofeer Hopping verder.
“Ek glo nie” sê die groot induna net voor hy insluimer.
Hy het vir ‘n oomblik gewonder hoekom Hopping nie die woord “elders” in die sin voor “in die heelal” gebruik het nie.
Op die Suidelike eiland aan die oorkant van die groot rivier het dit ‘n rukkie gelede al lig begin word.
Die eiland se groot indoenas kom bymekaar, want hulle moet ‘n lastigheid bespreek.
Iemand in hul Aapintelligensiediens het ontdek die ouens op die groot eiland wil hulle ondermyn met ‘n sensiteringsaksie.
Eintlik weet hulle lankal daarvan, maar die lastigheid is dat agente dit ook nou uitgevind het.
Trouens, daar is gekonkel om met die hulp van die groot eiland van Ekskeel Boontjie en sy trawante ontslae te raak. Eintlik wou die groot eiland vir Pit Botaap in die stoel gehad het, maar dit het misluk.
Nou het twee agente daarvan uitgevind.
Twee onkreukbares daarby, en dis die probleem.
“Wie is die aap wat die aap van die groot eiland probeer werf het?” wil Piepie Botaap, die grootste aap, weet terwyl hy dreigend met sy wysvinger rondswaai.
‘n Groot aap met ‘n bles, Pit Botaap, skuif sy breë skouers eers heen en weer.
“Peens Epol, ‘n studenteleier,” sê hy.
“Wat gaan ons doen?” vra Piepie. Piepie kan Pit nie verdra nie. Pit is meer bek as binnegoed, maar as dinge aan hom oorgelaat was, was dit lankal klaar met Kees.
Eintlik nie die Kese nie, hulle sou alles lankal gehad het.
Maar Pit en die ape in sy stellasie!
Hulle veroorsaak vir Piepie se manne en die lang bobbejaan se ape darem baie hoofbrekings.
Soos laas toe Pit aangedring het dat Jasse Jesaap van die groot eiland ‘n vistuin of visum of so iets moet kry. Ter wille van die Suidelike eiland se inter-eilandbeeld.
En wat gebeur?
Ons agente moes hulle moeg hardloop agter Jasman aan.
Soos die slag by die Grootvoël-landinstrook.
Jasse het die nuusdra-ape in die aankomsgrot toegespreek.
Amper het Jasman die afluister-bamboes gebreek toe hy op die kussing waaronder dit versteek was, gaan staan het om in die kerskandelaar teen die dak daarvoor te soek.
Hy het die plek behoorlik soos ‘n vernuftige bobbejaan op soek na Skerpioene omgedolwe voor hy begin praat het. En toe het die stoepid nog op daai einste kussing gaan sit ook! En nog stilletjies gepoep ook wat oor die bamboes gedreun het.
Die Pit irriteer vir Piepie oneindig met daai groot bek van hom.
Soos laas wat een van ons vissbootjies gaan rondvoeter het waar dit nie gehoort het nie.
Dis toe dat ‘n klomp stoute ape met hul ketties op die arme be-aping van die Skuinskruis 7 losgebrand het.
Die laaste klip het nog nie eens mooi die skippie getref nie, toe is Pit op die prentjiekassie en sê sy lamlendige hoenderstellasie gaan die ding ondersoek.
Nou is al die mane al verskeie kere oor, maar hy het nog glad nie die boodskap deurgegee nie.
Of is dit dalk net een maan?
Hoe sal ‘n aap soos hy nou ook verseker weet?
Dis darem jammer hy het Pit se steun nodig gehad om van Ekskeel ontslae te raak.
Kyk net hoe oulik werk hy en die ander aap wie se steun hy nodig gehad het saam.
Eers sorg Alpyn Skeelbos dat hy, Piepie, die groot indoena word.
Toe maak hy weer vir Alpyn die groot aap van die ringkopkomitee.
Toe maak Alpyn weer vir hom, Piepie, ereburger van Alpynsgehuggie.
Toe stel Piepie vir Alpyn aan as voorsitter van die komitee wat moet kyk hoeveel meer tjoklits die indoenas moet kry.
Nadat Alpyn sy kant mooi gebring het, word hy, Alpyn, weer tot die kring van die Groot Indoenas toegelaat, en kan hy nou self baie tjoklits kry. En boonop heelwat piesangs ook, en dan nog grondboontjie-gegeurde roomys ook.
Koue roomys, wat die rugstring laat ril.
So moet ‘n ding mos werk.
“Ek dink ons moet die Apenbond eers raadpleeg” sê Rolf Holeijer, die apie met die seunsgesiggie.
“Jou annerding!” snou Foefel de Grap die klein apie toe.
“Mey hol?” wil die klein apie verontwaardig weet.
Hy weet hoe Foefel met die wyfie-apies lol. Hy self hoef nie te lol nie, die wyfie-apies draf sommer agter hom aan.
“Ek dink dis ‘n goeie plan” sê Piepie Botaap oor die voostel dat die Apenbond eers geraadpleeg word.
Want dis tog waaroor alles gaan.
Die ape verdaag, maar onderweg stamp hulle ook maar aspris goed aan mekaar om by die deur uit te wurm.
Die ape is doodgerus. Daar is niks wat die Apenbond nie kan hanteer nie.
Dit is ‘n paar maande later wanneer die dromme die suidelike eiland se groot indoenas weer bymekaar roep.
Piepie Botaap gaan terugvoering gee oor die Apenbond se oplossings.
Wanneer almal hul sit gekry het, en die ergste vlooivangery agter die rug is, maak Piepie stem skoon”.
“Ons het terugvoering gekry. Ons moet die twee agente uit sirkulasie plaas. Hulle hou ‘n te groot gevaar vir die Apenbond se toekomsvisie in.”
“Hoe gaan ons dit doen?” wil een van die ape weet.
“Die een het ons klaar reggekry. Dit blyk dat Aapstert McGeenoog meer van seunsapies hou as van miesie-apies. Ons kon hom gou oortuig. Hy gaan kamma na die bleekbeeneiland oorloop…”
“En die ander een?”
“Hy skep ‘n groter probleem. Hy het na ‘n ander gehuggie verkas, maar bly in sirkulasie. Hy het ‘n onkreukbare integriteit…”
“Moet ons hom nie betrek nie?” wil ‘n ander weet.
“Dis te laat. Hy het een van die Apenbond se groot kanonne in daai gehuggie klaar met korrupsie uitgevang. Blerrie van Skelm en sy trawante het hom reeds op die swart lys geplaas.”
“Nou wie is die knaap wat so in die Apanbond se grondboontjies kom rondkrap?”
“Heppie Toe-aap”.
“Nou hoekom nie klaarspeel met die mannetjie nie?”
“Wel, sy pa was self ‘n lid van die Apenbond. En tweedens neem die Apenbond in Bloekomspringfontein Heppie nie ernstig op nie. Hulle sal maar net sorg dat sy stertvere die heel tyd geknip bly. Dan kan hy nie baie skade aanrig nie.
‘n Paar maande later kom die groot indoenas vir oulaas as span bymekaar.
Piepie Botaap het ondertussen hard op sy kop geval en Foefel is in sy plek ingewerk.
Piepie het die groot eiland se sensiteringsoperasiwe begin dwarsboon, en die hou wat hy teen die kop gekry het, het vir die Apenbond as groot verligting gekom.
Die wiele kan weer voortrol.
Rolf Holeijer het taamlike vrye teuels gekry om die eiland op ‘n skinkbord aan die bobbejane te gee.
Hy is nogal in sy skik oor die joppie wat hy verrig het en prys sy eie stert oor die gemors wat hy aangejaag het, gereeld.
“Wat het toe van Heppie Toe-aap geword?” wil een van die indoenas weet.
“Wie’s dit?” wil Foefel weet.
Dit was nooit sy doel om te weet wat aangaan nie. Hy moes net opdragte uitvoer, anders het die ouens van die groot eiland sy gekafoefel aan die groot klok gehang.
“Ons het hom so goed as gebêre” kwetter ‘n blou-apie van die kantlyn af. “Blerrie se makkers het net ‘n klomp twak oor Heppie aan die bobbejane verkoop. Die bobbejane sal wel met hom klaarspeel.”
“Gaan die bobbejane niks agterkom nie?”
Die ape lag en lag tot die trane rol.
“Waarom dink jy word hulle bobbejane genoem?”
“Die Apenbond sou mos nooit laat glip het as ons nie oortuig was daarvan dat ons genoeg toue van agter die skerms kon trek nie,” sê Foefel.
“Ja, maar is daar genoeg gewigte en gewrigte ingebou?” wil een van die ou indoenas weet. Hy kon nie heeltemal met die spoed van verandering byhou nie.
“Dink jy miskien Rolf Holeijer is ‘n aap?” wil Foefel vererg weet.
Die ou aap hou sy mening vir homself.
Hy self het hom minstens aan genoeg albasters gehelp om hom deur sy oudag te sien.
Wat sy kinders betref, daar is altyd ander eilande om na toe te swem as die nuwe groot indoenas te veel bobbejaanstreke uithaal.
“Ons maak mos nie op gewigte en gewrigte staat nie” sê ‘n aap.
“Ja, maar ons kan ook nie die feit dat ons ‘n klomp ape in die Ape Maai Chaos (AMC) geplant het aan die groot klok hang nie. Hulle moet op hul tyd hul rol speel” sê Foefel.
“En wat as hulle ontken dat hulle ooit van ons impimpies was?” wil nog ‘n gladdebek-apie weet.
“Nou hoekom sal hulle dit ontken? Ek bedoel, hoe sal hulle dit kan ontken as dit vir ons nodig raak om die matte onder hulle uit te ruk?”
“Ek weet nie, maar ek hoor die AMC praat van ‘n inkwisisie. As ‘n aap glo genoeg gaan bieg gaan hy loskom. Gaan van die ouens met vuil kombuise nie dalk daai inligting verruil om uit die dinges te kom nie?”
Foefel raak nou geïrriteerd met die gladdebek-apie.
“Wie is ons manne by die AMC” wil ‘n nuweling weet. Dus vir hom nuus, en hy is nog naïef genoeg om te dink hy gaan ingelig word.
Hy kry egter net ‘n vuil kyk van Foefel.
‘n Rukkie later, toe Foefel se aandag elders toegespits is, fluister ‘n ou aap langs die nuweling vir hom in sy oor:
Pannie Mombakkies, Frik die Nooit…” maar teen die tyd kyk Foefel weer in daai rigting en die ou aap bly stil.
Hy het nie nou aspirasies om soos Pit Koornkriek weer te gaan kleintjies maak nie.
“Om terug te kom na daai Toe-aap. Presies hoe gaan die AMC met hom klaarspeel?” vra Foefel.
“Maklik” kom dit van die Holeijer.
“Die AMC het een van die bobbejane wat aan ons kant was beloof hy sal niks oorkom as hy die wêreld vir daai Toe-aap moeilik maak nie. Sien, daai bobbejaan se senuwees het geknak oor wat hy bang was die AMC met hom gaan aanvang. Hy het die kans met altwee hande aangegryp”.
“Hoekom praat julle van ‘AMC’?” vra nog ‘n nuwerige apie. “Moet dit nie eintlik ‘ANC’ wees nie?”
Die klein apie kry ‘n klomp vreeslike kyke.
“Vuilbek!” raas Foefel. “Wil jy hê ek moet jou bek met witblits uitwas?”
“Wil jy hê Vigs moet die hele eiland vol versprei?” raas Pit.
Die apie weet nog nie waaroor die hele bohaai gaan nie.
Hy kan nie dink watter woord wat met ‘n “n” begin en met “maai” rym kan soveel aanstoot, ekskuus, verontwaardiging in ‘n geselskap soos hierdie veroorsaak nie.
Kyk, die ape se gereedskap kom baie meer dikwels as hul geraamtes uit die kas.
Maar dan, hy is mos darem net ‘n aap.
Maar solank daai klein apie daar anderkant net gebêre is, is alles honkiedôrie.
“Hoekom soek die AB na ‘n opvolger vir jou wat nie deel van die Apenbond is nie?” wil ‘n gladde apie van Foefel weet.
Foefel kyk die gladde apie kwaai aan.
“Wat bedoel jy?” wil Foefel weet.
“Man, ek bedoel daai snuitertjie Mapstieks van Skuinskyk”.
“Ek dink nie jy weet waarvan jy praat nie, en as daar iets in steek is ek seker dis te ingewikkeld vir enige aap om te verstaan” sê Foefel.
Hy kry nogtans die gevoel dat ‘n skraal windjie oor sy graf gewaai het.
As die basuinskreërs wat weet darem moet begin skree oor wat hulle weet, is dit klaar met Kees.
Hy wil darem nie aan die verkeerde kant van die Gryskopape se Mafia beland nie.
трековые однофазные светильникиФильчаков