Wie se skuld is dit dat ons nog nie ‘n volkstaat het nie? Die volk s’n – natuurlik!
Die stelsel wat ons voorouers voor 31 Mei 1902 gehad het, was nie ‘n demokrasie nie. Dit was ‘n republiek. In ‘n republiek behou die burgers die gesag oor die regering, in ‘n demokrasie staan die burgers die gesag af aan die regering. Sedert 1902 het ons stadigaan gewoond geraak dat die regering alles vir ons moet doen. Toe die koloniale regering niks wil doen nie, toe stig ons organisasies wat vir ons moet doen – soos die Broederbond, die FAK en ander. Toe die organisasies ons ook in die steek laat, toe soek ons ‘n Leier. Nou het die leiers ons van die wal af in die sloot ingelei.
Op 31 Mei 1910 word die Unie van Suid-Afrika gestig – ‘n gefabriseerde monstrositeit van die Britse Empaaier. Teen wil en dank is ons nou deel daarvan en ons kry ‘n nuwe vlag en landslied om ons lojaliteit aan die Staat te bevestig. Verder moet ons seuns hulle lewens vir die Staat opoffer. Nietemin werk die volk tog almal hard om ons vryheid terug te wen. Dink aan 1938 en 1948. Die volk self neem aktief deel en magtige oorwinnings word behaal.
Op 31 Mei 1961 word ons ‘n “republiek”. Ons dink toe alles is verby, ons het ons vryheid terug gekry. In werklikheid is dit nog steeds dieselfde gefabriseerde staat van voorheen. Ons seuns moet in die bos gaan veg om vir die politici “tyd te koop” om ‘n politieke oplossing te bereik. In die Broederbond, die NP en die susterkerke kry die liberale faksie die oorhand. Die bereiking van ‘n oplossing deur middel van Groot-Apartheid word gerysmier. Nou neem die volk nie meer aktief deel nie, ons kan nou ontspan want sake is in “ons mense” se bekwame hande. Ons weet mos verseker dat die politici, dominees, professor-doktore en die koerante nie vir ons sal lieg nie.
Intussen is daar mense wat ‘n ander oplossing soek, naamlik ‘n volkstaat. Hulle word grootliks geïgnoreer, of linkses genoem. Later word hulle regses genoem. Hulle is ekstremiste en blykbaar dra hulle, nes die kommuniste, baarde. Hulle doen navorsing en publiseer boeke. Maar nog die liberales nog die konserwatiewes stel belang in wat hulle te sê het. Maar danksy Genl. Constand Viljoen, is daar tog ‘n klein toegewing in die nuwe grondwet na 1994.
‘n Nuwe bedeling kom in 1994 tot stand. Ons kry ‘n regte-gebaseerde liberale demokrasie – net soos in Europa. Hierdie soort stelsel is ‘n klaaglike mislukking – ook in Europa. Die kiesers sit magteloos teen dit wat die politici, en veral die burokrate, besluit. In die Verenigde Koninkryk het die twee groot partye dieselfde beleid en die kiesers moet besluit watter leier se gesig is die mooiste. In die Verenigde State is ‘n soortgelyke situasie en die fly-over country begin praat van sesessie. Daar is ook die Tea Party-beweging wat spontaan onder gewone mense ontstaan en wat onafhanklik van die politieke partye is. Hierdie mense hou optogte en vergaderings en word ‘n faktor wat die politici begin bekommer.
Ons sit hier in ons eie gemors. Al kry ons ook ‘n Groot Leier, wat presies kan of moet hy doen? Dit gaan baie geld kos, hy sal nie belastinggeld kan gebruik nie en ‘n miljardêr sal seker nie wil help nie. Sal die volk dalk weer moet koekies bak? Daar is baie om te doen, publisiteit moet gemaak word, vergaderings moet toegespreek word, samesprekings moet gevoer word. Sal die volk dalk weer deur-tot-deur moet loop om steun te werf en te oortuig? ‘n Kaptein span nie self die seile nie, hy gee bevele aan matrose.
Die Volksraad se Verkiesingsommissie mag dalk die antwoord wees. Hulle het alreeds oral, ook in die buiteland, registrasiebeamptes. Hierdie is ‘n voetsoolvlakaksie en kiesers moet ‘n ID kan toon.
Kan ‘n soortgelyke verkiesing nie elektronies gedoen word nie? Al sou ons net voorlopige leiers kan aanwys met opdrag om die volk bymekaar te maak. Uit so ‘n registrasie kan ‘n meer akkurate profiel van die volk opgestel word. Massa kommunikasie kan ook per sms gereël word. Mense kan opgeroep word om op kort kennisgewing op bepaalde plekke vergaderings of optogte by te woon. Dit sal nogal gaaf wees as mense tradisionele drag kan aantrek vir sulke geleenthede. Natuurlik moet dit net nie bots met die rugby nie, want rugby is vir die meeste mos meer belangrik as vryheid.
Dalk word vryheid weer belangrik en ontstaan daar ‘n vryheidsdrang wat ‘n onblusbare brand word.
