Ek het my nog nooit verwerdig om op Dan se skrywes te reageer nie, maar gister se Volkstaat-een vat die koek! In kort: hy is ‘n voorstander van die idee dat ‘n Afrikaner-volkstaat gestig word. En hier is hoe sy Volkstaat moet lyk (ek plak net so van sy blog af): Ons eis ‘n derde van die land in ‘n strook wat loop van Pretoria-Oos tot anderkant Witbank met Jan Smuts-lughawe en die meeste kragsentrales, asook suidwaarts ‘n groot deel van die Oos-Vrystaat tot in die Suid-Kaap met die kusgebied tussen Port Elizabeth en Mosselbaai daarby ingesluit.”
Hier sal “Afrikaners oplaas ná eeue van vlug, swerf en stryd omdat ons deur Katolieke Spanjaarde, moordlustige Britte en nou rassistiese Afro-Saksers verdruk is, vryheid smaak.”
Hoesê? Ek het Geskiedenis tot Matriek gehad, maar het seker die dele gemis waar Afrikaanssprekendes deur “Katolieke Spanjaarde” vervolg is. En Afro-Saksers?? Ek weet van Afro-Americans, en dis vir my ‘n belaglike konsep. (Om jouself met Afrika te verbind bloot omdat jou oerantie se oupagrootjie se derde niggie 400 jaar gelede in die Kongo gewoon het, kon ek nog nooit verstaan nie.) NET SO MIN as wat ek nie rassiste soos Roodt se ontkenning van swart mense se regte om in Suid-Afrika te woon en te werk en te leef verstaan nie.
Want al was my oer-oer-oer-oupagrootjie ‘n Russiese Duitser, is ek ‘n Suid-Afrikaner. Nie ‘n Rus of ‘n Duitser nie. Of ‘n Ier, aan my ouma se kant. Ek is ‘n Afrikaan, wat hierdie kontinent in my bloed het en NOOIT erens anders wil bly nie. En ek is Afrikaans en trots daarop, en ja, ek is ‘n Afrikaner, maar minder trots dáárop as mense soos Roodt die term rondgooi en beweer hy praat namens alle “denkende, moderne en ingeligte Afrikaners”.
Skies tog, Neef Roodt, maar wat maak dit my dan? En volgens alle definisies wat ek ken en gemeet aan alle beskaafde standaarde en norme is ek beslis denkend, modern en ingelig. Jammer, jy praat beslis nie namens my en my vriende nie.
En jou stelling: “Swartmense en vele Engelssprekende blankes verkies die huidige regeringsvorm met sy welvaartstaat, misdaad, Engels, regstellende aksie, omgewingsbesoedeling en korrupsie wat ons tegelyk woedend en moedeloos maak.
Net so sal hulle waarskynlik ontuis voel in ‘n land met wetstoespassing, Afrikaans en hoë opvoedkundige standaarde waar niks op ‘n skinkbord verkry word nie. Dit sal egter ordelik, skoon en veilig wees met die helfte van Suider-Afrika se BNP en Afrikaans as enigste amptelike taal.” verwerp ek met meer minagting as wat dit verdien. Dis nie net onchristelik nie, dis ook chauvinisties, nepotisties (baantjies vir boeties, jy weet), gierig, rassisties en meerderwaardig. Alles dinge wat in MY Bybel nogal sterk afgekeur word deur dieselfde Here wat sekere “Afrikaners” so links en regs gebruik om hulle idiootlike uitsprake te regverdig.
Ja, meeste van die dinge waarop jy nou wil beslag le vir die Volkstaat is ontwikkel onder die apartheidsregering, maar met wie se hande-arbeid en bloedsweet? As jy wil eerlik wees, hoofsaaklik met SWART mense s’n, Dan. So, wie het meer reg daarop: wit of swart? (Die antwoord is eenvoudig: alle Suid-Afrikaners het ewe veel reg op hierdie land en sy hulpbronne.)
Ja, daar is probleme. Daar is misdaad en swak opvoeding en infrastruktuur wat ineenstort. En korrupsie en plaaslike dienste wat non-existent is. Maar die volwasse, Christelike ding sou wees om saam te soek na die oplossing, en om mense in jou dampkring te besiel en te inspireer om van SUID-AFRIKA ‘n beter plek te maak. As ons wag vir die regering, gaan ons lank wag. Daarom moet ONS ‘n begin maak. ONS moet ons bure leer ken en by ons plaaslike gemeenskapspolisieringsforum aansluit sodat ons saans veiliger kan slaap. ONS moet sorg dat ons kinders ook by die huis opgevoed word. ONS moet ons Bybelse opdrag van naasteliefde uitvoer, en mense help wat swaarkry, ongeag ras of klas.
Daar is vir my ‘n logiese oplossing wat ons almal skynbaar miskyk: elke gesin in hierdie land wat oorvloed het, moet iemand (of ‘n gesin) help sodat die maatskaplike las nie so swaar druk op die regering nie. Want hoe kan 50 miljoen mense uit staatskoffers gehelp word? En nee, moenie vir my vertel dis jou goed en jy’t daarvoor gewerk nie. Onthou maar altyd wie die Bron is, wie die Voorsiener van ‘n werk is. Hy kan dit enige tyd wegneem, en dan gaan jy (dalk eers as jou neseier op is) ook bakhand moet staan. En Sy Opdrag is om te help waar jy kan. En dit sluit swart mense in. Eers as minder mense broodgebrek ly, kan ons begin om die misdaadgolf in SA hok te slaan.
‘n Ander kwessie is die verval van waardes en norme – nog ‘n rede tot immer stygende misdaadsyfers. Beeld berig vanoggend van ‘n taxi -bestuurder wat ‘n rooi lig ignoreer het en die dood van ‘n pragtige 19-jarige op haar verjaarsdag veroorsaak het. MAAR, vrinne, dis LANKAL nie net meer taxi’s wat so ry nie. Kyk bietjie om jou – gewone mense, ja ook wit mense (shock and horror!!) ry gereeld voor my oor rooi verkeersligte. Of in die geel streep. Of teen lewensgevaarlike spoed. (Al die jong manne met hulle Tazz’s en Chico’s gesien, om nie te praat van die manne in die luukse motors en 4×4 nie.)
En die manne met die Klippies en Coke in hul lywe is dikwels nie oorgretig om die sleutels aan vroutjie te oorhandig na ‘n partytjie nie. Dronkbestuur eerder, en blote geluk as hulle nie ‘n mens se lewe kos nie.
Dis ONS plig om ons kinders ook te leer wat reg en verkeerd is, in alle situasies. Dan sal onderwysers ook meer uitgerig kry in die klaskamers.
Laasten jou slotopmerking van “vele swartmense sal dit ook so sien” is niks minder as misplaaste arrogansie nie.
Dink weer, neef. En dink twee keer voordat jy namens my as jou mede-Afrikaner praat. Ek is beslis nie soos jy nie.

‘n libtert uit die inkleurboek. Vang nie lekker waaroor dit gaan nie.