“Die nuwe wetsontwerp op die lisensiëring van sakeondernemings (die sogenaamde smouswet) kom daarop neer dat plaaslike regerings die rol van belastingagente vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal moet vervul,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Hy sê benewens die feit dat die wet ook beamptes van doeane en aksyns inspekteurs sal maak, is daar geen beletsel in terme van die wet om inligting oor geregistreerde en ongeregistreerde besighede aan die inkomstediens te oorhandig nie.
Die feit dat sulke inligting nie as vertroulik geag word deur die wet nie, beteken dat die inkomstediens sy tentakels in terme hiervan wyd kan uitbrei.
Weens die korrupsie wat gedy in die staatsdiens, kan hierdie magte tot ‘n verdere praktyk van afpersing en omkopery in die kleinhandelsektor aanleiding gee.
“Die meeste munisipaliteite is nie in staat om tans hul pligte na behore uit te voer nie. Watter chaos gaan dit nie veroorsaak as die bykomende funksionele en administratiewe las op hulle geplaas word nie?” het adv. Alberts gevra.
Hy sê die beoogde wet sal die reg op vryheid van handel, beroep en professie ernstig ondermyn deur dit moeilik te maak vir mense, veral in die informele, klein- en mediumsake-sektore, om handel te dryf en nuwe werk te skep.
Die wetsontwerp se definisie is ook baie wyd en is van toepassing op “alle mense en sakeondernemings wat in die republiek sake doen”. Dit terwyl die huidige wet slegs lisensies vereis van ondernemings wat hoofsaaklik in die voedselbedryf, gesondheidsdienste of vermaak betrokke is.
Die wet sal nie alleenlik moeilik uitvoerbaar wees nie, maar is strydig met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) wat ‘n vermindering in die koste van die regulering van veral klein- en mediumsake-ondernemings vereis.
In die praktyk sal dit beteken dat niemand van die wet uitgesluit word nie. Van mense wat ‘n lewe probeer maak deur informeel goedere in plakkerskampe te verkoop, ‘n kerkbasaar of ‘n skoolsnoepie, sal aansoek moet doen om ‘n lisensie.
“Dit spreek vanself dat dit ‘n geweldige las op plaaslike regerings sal plaas om te reguleer. Veral polisiebeamptes en metro-polisielede sal hulle tyd nou hiermee mors terwyl misdaad baie meer aandag vereis.
“Boonop is die bepalings van die wet vaag en die magte wat aan inspekteurs en lisensie-owerhede gegee word, is so ongedefinieerd en wyd dat dit noodwendig tot korrupsie sal lei.
“Junior beamptes vanaf die rang van sersant kan as inspekteurs optree. Net so mag ongedefinieerde boetes en strawwe opgelê word. Veral kommerwekkend is die feit dat inspekteurs die vermoë sal hê om ‘enige perseel te sluit hangende verdere ondersoek’ en ‘enige goedere te verwyder’.
“Dit is gekheid. Die nuwe wet sal in die praktyk moeilik uitvoerbaar wees en gaan die deur net vir korrupsie oopmaak,” het adv. Alberts gesê.