Regering sal SAR-dodetal ondersoek ná Franse berigte

Die regering sal internasionale berigte ondersoek wat die dodetal ná ‘n aanval op Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) in twyfel trek, het die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, Donderdag gesê.

Volgens ‘n Franse nuusagentskap beweer rebelle dat die aantal Suid-Afrikaanse soldate wat in die stryd van Bangui dood is, tussen 36 en 50 is.

Die Suid-Afrikaanse regering sê die dodetal is 13.

Nkoane-Mashabane het gesê amptelike dokumente toon dat die situasie in die SAR chaoties is.

“Wat ek kan sê is dit wat deur verteenwoordigers van die Verenigde Nasies en Afrika-unie bevestig word – dat daar in ‘n staatsgreep-situasie chaos, lewensverlies en ander onvoorsiene omstandighede is.”

“Ons sal die feite nagaan en terug rapporteer indien dit nodig is,” het Nkoana-Mashabane gesê.

Pres. Jacob Zuma het Woensdag by die Eccas-beraad in N’Djamena, Tsjad, aangekondig dat Suid-Afrikaanse soldate uit die SAR onttrek sal word.

Afrika-leiers by dié beraad het besluit om nie die SAR se selfaangestelde president, Michel Djotodia, as die land se leier te erken nie.

Maak 'n opvolg-bydrae