Ongeveer 60 mense het Donderdag buite die Hillbrowse landdroshof betoog voor die verskyning van ‘n man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n skildery gevandaliseer het.
Die groep eis dat Louis Mabokela, wat aangekla is nadat hy verlede jaar die omstrede skildery The Spear in die Goodman-galery in Johannesburg beskadig het, vrygelaat word.
“Louis yo hana molato. Molokolleng [Die Louis is nie skuldig nie. Laat hom vry],” het die groep buite die hof geskree.
Die meeste van hulle het geel ANC-T-hemde gedra.
Volgens ‘n woordvoerder vir Mabokela se familie het sowat 200 ondersteuners in 15 minibusse vanaf Limpopo na Johannesburg gereis.
Die ondersteuners het in motors geslaap om Donderdag betyds te wees vir die saak.
Mabokela het Woensdag onskuldig gepleit op aanklag van saakbeskadiging.
