Pretoria moet self grafte grawe

Pretorianers moet self die grafte van hul afgestorwenes grawe, aangesien ‘n kontrak met die Tshwane-metroraad se grafgrawers verstrek het.

Begrafnisondernemers het ontdek dat grafgrawers by al die Tshwane-metroraad se begraafplase reeds aan die einde van Maart hul gereedskap neergelê het, het The Times Donderdag berig.

Dit beteken dat die begrafnisondernemers en die familie en vriende van afgestorwenes self grafte moet grawe en toegooi.

Elsabe Basilio, die voorsitter van die nasionale begrafnisdirektoraat, het gesê die situasie is ontstellend.

“Begrafnisse kan nie uitgestel word nie. Ek het onlangs ‘n begrafnis gehad waar ek en my personeel spesiaal vroeër moes opdaag om ‘n graf te grawe,” het sy gesê.

Basilio het gesê in sommige gevalle moet familielede die grafte grawe, omdat daar niemand anders is om dit te doen nie.

Sy het gesê een begrafnisondernemer het Woensdag ‘n liggaam in ‘n oop graf net so gelaat en gesê die metroraad moet hul eie probleme uitsorteer.

Volgens Basilio het die Tshwane-metroraad se kontrak met die kontrakteur Desember geëindig.

“Die kontrakteurs het intussen ooreengekom om uit te help terwyl die metro besig was met ‘n nuwe tenderproses. Die kontrakteur is egter vir die afgelope drie maande nie betaal nie en weier om verder te help,” het sy gesê.

Basilio se organisasie gaan Donderdag ‘n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof indien om die munisipaliteit te dwing om grafgrawers te huur.

‘n Woordvoerder van die Tshwane-metroraad, Nomasonto Ndlovu, het gesê die raad is nie bewus van die situasie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae