Voëlgriep eis vierde slagoffer

‘n Man is in Sjanghai dood nadat hy met ‘n nuwe stam van die voëlgriepvirus besmet is, het die staatsmedia Donderdag berig.

Altesaam vier mense het nou al weens die H7N9-virus gesterf.

Die 48-jarige pluimvee-werker, van die oostelike Jiangsu-provinsie, is die 11de mens wat ooit met die H7N9-virus besmet is sedert die eerste menslike gevalle vroeër die jaar aangemeld is, het China se CCTV berig.

Hy is die derde slagoffer wat in Sjanghai dood is, terwyl een ander persoon in die Zhejiang-provinsie dood is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Woensdag die moontlikheid van ‘n pandemie uitgesluit, aangesien die siekte nie onder mense aansteeklik is nie, anders as die meer algemene H5N1-stam van die virus.

Gesondheidsbeamptes in Sjanghai het gesê nie een van die agt mense met wie die man nabye kontak gehad het, het tekens van die siekte getoon nie.

Maak 'n opvolg-bydrae