Woede omdat ‘aantreklikste ras’ wit is

Die Universiteit van Kaapstad se studentekoerant, Varsity News, is in die sop oor ‘n grafiek wat die “aantreklikste ras” as wit aandui.

Die sirkeldiagram getiteld “UCT stem vir die aantreklikste ras”, gee ‘n keuse van wit, Indiër, bruin, Afrikaan, Asiaties en gemengde herkoms.

Volgens die peiling dink die meeste studente (38%) dat wittes die mooiste is, terwyl die minderheid (8%) vir swartes gestem het.

Die grafiek verskyn saam met ‘n artikel deur ‘n student, Oamran Tabo, wat onderhoude met sestig mense (tien uit elke rassegroep), gevoer het.

Volgens die Varsity News-redakteur, Alex Nagel, het die artikel die invloed van ras op sosiale strukture in die era ná apartheid blootgelê.

Nagel het die besluit om die artikel te publiseer, verdedig: “Dit was ‘n opiniestuk wat uit konteks gehaal is.Varsity News is ‘n platform vir mense om kwessies en die gemeenskap te bespreek,” het sy aan News24 gesê.

“Baie studente by die universiteit het egter negatief gereageer oor die artikel en voel aangeval en beledig,” het Nagel bygevoeg.

Die koerant het Donderdag ‘n verskoning uitgereik.

Maak 'n opvolg-bydrae