Die Grondwethof het beslis dat Robert McBride wel ‘n moordenaar en misdadiger genoem mag word. Dit is ‘n slag vir nasionale eenheid, het die ANC in reaksie gesê.
“Die beslissing deur die Grondwethof heropen die wonde van so baie mense wat hul families verloor het, verhoor, verban, aangehou, vermink en doodgemaak is,” het mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, in ‘n verklaring gesê.
Die hof het beslis dat The Citizen McBride ‘n moordenaar en misdadiger mag noem, ten spyte daarvan dat die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) aan McBride amnestie vir die Magoo’s Bar-bomontploffing in Durban gegee het.
Mantashe het gesê: “Die spraakvryheid-oorwinning waarop The Citizen aanspraak maak, is van verbygaande aard, wat nie die saak van versoening en nasionale eenheid bevorder wat die Waarheid-en-versoeningskommissie wou teweegbring nie.”
Mantashe het gesê die verlede kan nie ongedaan gemaak word nie, en die kommissie het mense hoop gegee.
“In die geval van kameraad McBride het hy voor die WVK verskyn, ‘n volle blootlegging gedoen en om verskoning gevra en amnestie is vir hom aangebied.
“Die besluit van die konstitusionele hof suggereer die edele proses het tragies verlore gegaan wat ons land deur die WVK aan individue soos kameraad McBride, asook mense wat apartheidgruwels gepleeg het, gebied het.”
Die ANC het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die bevindings van die hof te respekteer en in gelyke mate die “traumatiese WVK-proses” waarin amnestie aan McBride en ander toegestaan is, te respekteer.
“Ons moet ons daarvan weerhou om die uitkoms van die WVK-proses te ontken deur dié wat daarvoor verskyn en kwytskelding gekry het, moordenaars te noem sonder rede of besorgdheid oor nasionale eenheid en nasiebou.
“Laat ons nie die proses van vrede en versoening wat aan ons gegun is, ondermyn nie,” het Mantashe gesê.
Die hof het verlede week beslis dat die Versoeningswet nie die feit dat McBride moord gepleeg het, onwaar maak nie. Die wet verbied nie openlike openbare bespreking van sy daad nie en keer ook nie dat hy as ‘n “misdadiger” beskryf kan word nie.
