Kitsbanke spoeg minder note in April

Onttrekkings by kitsbanke het in April 2013 met 0,73% afgeneem, het Spark ATM Systems Maandag gesê.

Kontankonttrekkings was effens minder as tydens die Maart-vakansietydperk, maar was 6,01% meer as dieselfde maand verlede jaar, het die maatskappy gesê.

Die gemiddelde bedrag wat kitsbankgebruikers onttrek het, is volgens ‘n ontleding van kontantonttrekkings by 2 000 kitsbanke R461,65.

Die grootste afnames is gesien by kleinhandel (2,41%), groothandel (1,57%) en landbou-gebiede (1,48%), het Ryan Tzamtzis, bedryfshoof van Spark ATM Systems, in ‘n verklaring gesê.

“Die afnames in die gebiede dui daarop dat verbruikers minder bestee het as in Maart, toe daar ‘n toename in onttrekkings was as gevolg van die Paasnaweek, skoolvakansie en ander openbare vakansiedae in die maand.”

Maak 'n opvolg-bydrae