Werk by Lonmin hervat na rand val

Werk by al 13 skagte van Lonminmyn in Marikana in die Noordwes is hervat.

Die stakende werkers het laat Woensdag ‘n onwettige staking van twee dae beëindig en bedrywighede is dieselfde aand hervat.

Die staking het tot ‘n einde gekom nadat Joseph Mathunjwa, president van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), Woensdag meer as 5 000 werkers by die Wonderkop-stadion toegespreek het.

“Daar is kanale wat gevolg moet word… gaan terug werk toe sodat jul vyande nie voordeel uit hierdie situasie trek nie,” het Mathunjwa aan die werkers gesê.

Amcu, die mynbestuur en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) sal Donderdag vergader om Amcu se erkenning as meerderheidsvakbond te bespreek, berig RSG.

Mathunjwa het vroeër aangedui dat ‘n staking kan volg indien die vakbond nie tevrede is met die uitslag van dié samesprekings nie.

Die mynwerkers het Dinsdag begin staak en eis dat die National Union of Mineworkers se kantore by Lonmin onmiddellik gesluit word.

Die rand het tot sy swakste vlak sedert middel-April gedaal en verhandel tans teen R9,22 teenoor die dollar, berig RSG.

Die nuwe vrese oor arbeidsonrus in Marikana in die Noordwes het opgevlam na die onwettige staking begin het.

Die stakers was kwaad oor die dood van ‘n vakbondleier die afgelope naweek in Nkaneng. Hulle eis dat die vakbond, die NUM se kantore by Lonmin gesluit word.

Lonmin se aandeleprys het Dinsdag byna 7% laer gesluit.

Maak 'n opvolg-bydrae