Mediakonferensie kom binnekort oor Gupta-verslag

Die ministers van justisie, misdaadvoorkoming- en veiligheid sal binnekort ‘n nuuskonferensie hou om die uitslag van die ondersoek na die ongemagtigde landing van ‘n private straler op die Waterkloof-lugmagbasis bekend te maak.

Phumla Williams, woordvoerder van die regering, het gesê die groepering is daartoe verbind om te verseker dat streng maatreëls getref word om ‘n herhaling daarvan te voorkom, het RSG berig.

‘n Straler, wat deur die skatryk Gupta-familie gehuur is, het op 29 April met 270 bruilofgaste aan boord by die lugmagbasis geland.

Gaste het die troue van Vega Gupta by Sun City bygewoon. Die landing by ‘n nasionale sleutelpunt het groot kritiek uitgelok.

Intussen is daar nog nie ‘n besluit geneem oor of ‘n klag by Indië gelê gaan word oor die landing nie.

Die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ebrahim Ebrahim, het Dinsdag gesê besluite sal eers geneem word nadat ‘n ondersoek in die saak afgehandel is.

“In hierdie stadium was daar geen klagtes aan die Indiese regering gemaak oor die Indiese hoë-kommissaris (Virendra Gupta) nie. Ons wag vir die bevindinge van daardie kommissie,” het hy aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“Afhangende van die kommissie se bevindinge sal ons sien watter besluite geneem word,” het hy gesê.

Virendra Gupta is nie familie van die ryk Gupta-familie nie.

Die Guptas besit die New Age-koerant, sowel as Sahara Computers.

Maak 'n opvolg-bydrae