Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die aanranding van adv. Dali Mpofu in Oos-Londen, het die polisie in die Oos-Kaap Woensdag gesê.
Die twee, wat beide 23 jaar oud is, is Dinsdag in Cambridge in hegtenis geneem, het brig. Phuti Setati gesê.
Die polisie het daarin geslaag om beslag op die [beweerde] wapen te lê… sowel as die selfoon wat gesteel is,” het hy gesê.
Mpofu, wat die mynwerkers verteenwoordig wat in verlede jaar se skietery met die polisie in Marikana betrokke was, is op 11 April beroof en met ‘n mes gesteek terwyl hy op ‘n strand in Oos-Londen gestap het.
Die voormalige uitvoerende hoof van die SABC is drie dae later uit die hospitaal ontslaan en was aangeraai om nie per vliegtuig te reis nie weens die skade aan sy longe.
Setati het gesê die polisie het vasgestel dat beide die verdagtes uit was op R500 se borgtog vir ‘n beweerde rooftog in Oktober.
In daardie voorval is ‘n toeris en polisiereservis van hul selfone beroof. Die twee beskuldigdes sal op 24 Mei weer in die landdroshof in Oos-Londen verskyn in verband met die roofsaak.
Hulle sal Vrydag in dieselfde hof verskyn in verband met die aanval op Mpofu. Hulle staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof.
