Rusland en Suid-Afrika, wat saam sowat 80 persent van die wêreld se reserwes van die platinumgroep metale beheer, beplan om ‘n handelsblok te skep soortgelyk aan OPUL om die vloei van uitvoere te beheer.
“Ons doel is om ons aksies te koördineer om ooreenkomstig die markte uit te brei vir die realisering van hierdie metale,” het die Russiese minister van Natuurlike Hulpbronne Sergey Donskoy gister gesê in ‘n onderhoud by die Brics-spitsberaad van die leiers van Brasilië, Rusland, Indië en Suid-Afrika in Durban.
“Die prys hang af van die struktuur van die mark en ons sal die struktuur van die mark bepaal.”
Ander platinumprodusente sal genooi word om by die blok aan te sluit, wat soortgelyk sal wees aan die Organisasie van Petroleum Uitvoer Lande, het Donskoy gesê.
Die doel sal wees om nuwe markte te ontgin eerder as om uitvoere te beperk, het hy gesê.
“Daar sal ‘n vergadering in die somer wees om meganismes in detail te bespreek.”
Die vyfde Brics-beraad word in Durban gehou.
Die Suid-Afrikaanse miljardêr Patrice Motsepe is aangestel as die voorsitter van die nuutgestigte Brics-sakeraad, berig die Sowetan.
Die Black Management Forum (BMF) het die aanstelling verwelkom.
Nicholas Maweni, besturende direkteur van die BMF, het aan die koerant gesê die raad sal verskeie sakekwessies hanteer.
Vier ander lede van die raad is verteenwoordigers van die ander Brics-lande – Brasilië, Rusland, Indië en China.
“Die raad sal ons ‘n geleentheid gee om ‘n sakeliggaam te hê wat ekonomiese geleenthede sal uitwys en kwessie waardeur elke land in die gesig gestaar word. Elke lidland sal marktoegang tot sy Brics-vennote verskaf,” het Maweni gesê.
