Microsoft se nuwe Windows 8-bedryfstelsel stoot gebruikers af van rekenaars na slimfone en tabletrekenaars, het die marknavorser IDC Woensdag gesê.
Die verkope van gewone rekenaars het in die eerste drie maande van 2013 met 14% gedaal, het IDC gesê. Dit is die skerpste daling sedert die navorsing in 1994 oor die rekenaarbedryf begin het.
Microsoft het op 26 Oktober verlede jaar sy nuwe Windows 8-bedryfstelsel bekendgestel in ‘n poging om die swak rekenaarmark ‘n hupstoot te gee, wat onder druk is weens die gewildheid van tabletrekenaars en slimfone.
“Ongelukkig is dit duidelik dat die bekendstelling van Windows 8 nie die positiewe uitwerking gehad het wat verwag is nie; dit lyk selfs of die mark verder verswak het,” het Bob O’Donnell, adjunkhoof van die IDC, gesê.
Die nuwe weergawe van Windows is ontwerp om ook op raakskerms te werk, maar dié raakskerms kos meer as ‘n gewone rekenaarskerms. Hoër pryse maak tabletrekenaars en slimfone, wat goedkoper is, meer gewild, het O’Donnell bygevoeg.
