Engels in howe eggo imperialisme sê VRA

Regter Cynthia Pretorius se pleidooi dat slegs Engels die enigste hoftaal moet geld, is ondeurdag, onverantwoordelik en ongrondwetlik.

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het só gereageer op Pretorius wat Woensdag voor die Regterlike Dienskommissie (RDK) verskyn het om te vra dat Afrikaans afgeskaf word.

Sy is een van drie kandidate vir die pos van adjunk-regter-president van Noord-Gauteng.

Volgens die VRA sal so ‘n besluit die regte van alle landsburgers op regspleging ignoreer.

“Die argument dat Engels gebruik moet word omdat die meeste regters nie Afrikaans magtig is nie, is prinsipieel bedenklik en bowendien elitisties.

“Die howe is daar vir die publiek en nie die publiek vir die howe nie. Die howe en regters dien deur middel van die regspleging die publiek. Dis nie die regspleging en die publiek wat regterlike beamptes moet dien nie. Regterlike beamptes moet die publiek dien.”

Volgens die VRA is daar heeltemal genoeg regters – wit en swart – wat Afrikaans magtig is om sake in Afrikaans te verhoor. “Trouens, daar is gevalle van swart regters wat gereeld uitsprake in onberispelike Afrikaans lewer.”

Die VRA het regters gevra om hulle van standpunte ten gunste van Engels te weerhou. “Sodanige standpunte eggo ou imperialistiese sentimente, maar is nóg in pas met Suid-Afrika se inheemse behoeftes nóg met die eise van behoorlike regspleging.”

Maak 'n opvolg-bydrae