Die ongewilde e-tolstelsel sal binne die volgende twee maande op Gautengse paaie in werking gestel word, het Sanral Donderdag gesê.
“Ons wag nou dat die parlementêre proses voltooi word, met die helfte reeds afgehandel,” het Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, in ‘n verklaring gesê.
Wetgewing moet afgehandel word, waarna die minister van vervoer, Ben Martins, die finale tariewe bekend sal maak.
“Daardie hele proses sal sowat twee maande neem om te voltooi. Daarna sal die e-tolstelsel begin,” het Mona gesê.
“Ons het ‘n verantwoordelikheid om saam hierdie land te bou en ons is dankbaar dat daar individue en groepe is wat die waarde van hierdie projek sien en wat bereid is om hulle rol in daardie opsig te speel.”
Die DA-parlementslid Jack Bloom het in reaksie gesê die regering moet selfs in hierdie laat stadium sy besluit heroorweeg want toenemende openbare teenstand kan die projek ontspoor.
“Dis die regering teen die mense van Gauteng noudat Sanral aangekondig het… dat die e-tolstelsel… oor twee maande gaan begin,” het hy in ‘n verklaring gesê.
“Die DA ondersteun Gautengse motoriste wat hulle vrye wil uitoefen deur nie ‘n e-skyfie te koop nie.”
Sowat 600 000 mense het al e-skyfies gekoop.
