“Storting” is roofprysvasstelling veral in die konteks van internasionale handel wanneer vervaardigers ‘n produk uitvoer na ‘n ander land teen ‘n prys óf onder die prys in sy tuismark, of in hoeveelhede wat nie deur normale markkompetisie verduidelik kan word nie.
Goedkoop hoender veral uit Brasilië en Europa word tans in Suid-Afrika gestort. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het aan Sake24 gesê: “Suid-Afrika se handelsgrense is so oop dat produkte die land inkom teen ‘n invoertarief van 0.”
In Oktober verlede jaar is 48 000 ton hoender en hoenderprodukte ingevoer wat kort voor die feestyd op die winkelrakke beland het.
“Dit is gelykstaande met 8 miljoen hoenders wat per week ingevoer is. Suid-Afrika se hele bedryf produseer 19,5 miljoen hoenders per week.”
Die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf is tans ‘n krisis gedompel weens invoere van goedkoop hoenderprodukte in groot hoeveelhede uit die buiteland.
Die landboumaatskappy Afgri se aandeelprys het met byna 6% tot R4,80 getuimel nadat waarskuwings oor ‘n daling in sy wesensverdienste van 25% en 40% aangekondig is.
Twee ander plaaslike hoendergroepe, Astral Foods en Rainbow Chicken, sukkel ook. Rainbow Chicken se wesensverdienste per aandeel het van 68,4c tot 17,8c verswak.
Astral het vroeër gesê sy wesensverdienste per aandeel in die ses maande tot einde Maart sal tussen 75% en 95% swakker wees as in die vergelykende halfjaar.
Afgri het die storting van pluimveeprodukte en die stygende insetkoste van voer vir sy probleme verkwalik.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) het vroeër aangedring op verdere maatreëls om die plaaslike bedryf te beskerm teen die storting van goedkoop hoendervleis uit veral Brasilië. Die Suid-Afrikaanse kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) doen ondersoek na die situasie.
