SEB, die verskil tussen lewe en dood

“Ons kan nie toelaat dat SEB-Kodes wat nie bestaan nie, bepaal wie lewe en wie sterf nie”, sê Jean Kriek, VF Plus Jeugleier, Gauteng.

Dit volg na aanleiding van die publisering van die gewysigde SEB-kodes deur die minister van Handel en Nywerheid, mnr Rob Davies verlede jaar in die Staatskoerant wat stipuleer dat maatskappye en individue geen SEB-punte sal ontvang vir skenkings aan Nie-Winsgewende Organisasies (NWO’s) wat nie grootliks dienste lewer aan voorheen benadeelde groepe nie.

Volgens Kriek is onherstelbare skade reeds aangerig aan die welstand van die mees weerlose mense.

Na druk van die burgerlike samelewing en ‘n versoek gerig aan mnr Davies deur Adv Anton Alberts, VF Plus LP, in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid om die wysigings te heroorweeg, is die voorgestelde SEB-kodes intussen teruggetrek.

“Die koeël is egter deur die kerk. Met die publisering van die gewysigde SEB-kodes het verskeie maatskappye en individue skenkings aan NWO’s gestaak. Hierdie fondse is nou verlore en beïnvloed die dag-tot-dag bestaan van mense wat afhanklik is van NWO-dienste”, sê Kriek.

Die Jakaranda Kinderhuis in Pretoria is ‘n duidelike voorbeeld van ‘n NWO wat deur die publikasie skade gely het. “‘n Skenker het ‘n beloofde R100 000 (honderd duisend rand) weerhou agv die gewysigde Kodes. Karige staatstoelae noodsaak NWO’s om te steun op skenkings vanuit die privaatsektor. ‘n Finansiële verlies van sò aard belemmer die funksionering van die kinderhuis”, het Kriek verder gesê

Die stand van sake het die VF Plus Jeug in Gauteng genoodsaak om ‘n beroep te doen op mnr. Davies om ‘n amptelike ministeriële skrywe te rig aan alle NWO’s om die feite reg te stel. “Ons gaan mnr Davies versoek om skenkers in kennis te stel dat die voorgestelde SEB-kodes van 2012 nie geld nie. Dit sal skenkers weer in staat stel om Jakaranda Kinderhuis te ondersteun soos vroeër”, het Kriek verduidelik.

Maak 'n opvolg-bydrae