praag.co.za

Driepunt is waarlik ‘n ster!

Written by

in

Wanneer ‘n mens aan sportmotors dink, kom name soos Porsche, Ferrari en Lotus by jou op. Mercedes het wel ‘n paar rasegte sportmotors, maar niks wat regtig aardskuddende emosie by ‘n mens ontlok nie.

So paar jaar gelede het die Duitse ombouingsmaatskappy AMG deel geword van Mercedes en soos altyd was dit met positiewe ywer aangepak. Gewone motors wat daar in monsters omgebou word met regte werkverrigting en ‘n klankstelsel sal enige mens met petrol in sy are sal laat regop sit.

Ons het die kans gehad, om só ‘n ombouing, die nuwe SLK 55 AMG, vir ‘n paar dae onderhande te neem.

Van buite

Die SLK is die kleiner weergawe van die magtige SL en ook die motor wat Mercedes so paar jaar gelede weer in ‘n modegier omskep het. Die dak is anders as afslaandakmotors van ouds en vou in twee dele om as ‘n geheel in die begasieruim te pas. Die nuwe SLK is groter, meer aggresief en dan ook heelwat mooier en sagter op die oog as enige van die vorige generasies. In AMG-gewaad bult die SLK spiere met swart insetsels en aggresiewe wiele.

Verrigting

Mercedes se SLK 55 AMG is toegerus met ‘n 5,5 liter V8-enjin wat 310Kw en 540Nm ontwikkel. Al die krag word na die agterwiele toe deurgegee en veroorsaak dat hierdie relatiewe klein motortjie van rus tot 100km/u in slegs 4.6 sekondes versnel. Dit is byna ‘n sekonde vinniger as die Porsche Boxter se 3,4 en 0,2 sekondes vinniger as die SLK se ou aartsvyand die BMW Z4 sDrive35iS. Oudergewoonte word die maksimumsnelheid tot 250km/u beperk, maar sonder die beperking sal die SLK se asem gemaklik anderkant 300km/u eers opraak.

Bougehalte en waarde

In egte Mercedesstyl is die SLK se boukwaliteit van uitstaande gehalte en alles is so te sê perfek ontwerp en geplaas presies waar die insittendes dit nodig het. Luukse leer is regdeur die kajuit gebruik en AMG-insetsels laat jou mooi verstaan waar jy nou eintlik sit. Teen net so duskant R1 miljoen rand is die SLK 55 AMG beslis nie bekostigbaar vir die meeste van ons nie, maar dit is dan ook glad nie die meeste van ons wat genoeg geld verdien om so ‘n ryding te kan koop nie. Die SLK is byna R100 000 duurder as die BMW Z4 en Audi se TT RS, maar hy is ook baie vinniger en meer eksklusief as die ander twee Duitsers.

Bevinding

Ons sê maar niks oor die brandstofverbruik nie, want dit is ‘n V8 met drukaanjaer en as jy vra hoe lig is hy op brandstof dan moet jy hom liefs nie koop nie. Ons dink in elk geval mense wat die motor se pryskaartjie kan bekostig sal glad nie bekommerd wees oor sy brandstofverbruik nie, terloop hy is ligter op die sak as beide die BMW of die Audi. Neem eers al drie vir ‘n toetsrit voor jy ontslae raak van jou hardverdiende geldjies.

Ons sal die Mercedes SLK 55 AMG ‘n hele 4 uit 5 gee net omdat dit soveel meer bied as net wat jy voor jou sien!

Comments

Leave a Reply