Swart jeug glo DA sal apartheid terugbring

Die ANC in die Wes-Kaap het Woensdag gesê swart jeugdiges is reg as hulle sê dat die DA apartheid sal terugbring indien die party aan bewind kom.

Volgens ‘n opname wat Dinsdag vrygestel is, het 54% van swart jeugdiges gesê die DA sal apartheid terugbring indien hulle die verkiesing in 2014 wen.

Altesaam 26% Indiërs, 21% bruinmense en 19% respondente het saamgestem. Altesaam 30 009 mense tussen die ouderdom van 15 en 34 het deelgeneem aan die selfoonopname wat deur die verbruikersmaatskappy Pondering Panda gedoen is.

Van die respondente glo 46% dat die DA apartheid sal terugbring, terwyl 36% nie saamgestem het nie en 18% onseker is.

Op die vraag oor of die ANC-regering omgekeerde apartheid ingestel het, het 45% van die jeugdiges die gedagte verwerp, 40% het saamgestem en 15% was onseker.

“Die wysheid van die jeugdiges is duidelik,” het die ANC in die Wes-Kaap in ‘n verklaring gesê.

“In die Wes-Kaap en munisipaliteite waar hy regeer, het die DA presies dit gedoen.”

Die ANC het gesê swart ondernemings word uitgesluit van regeringskontrakte, wit manlike bestuurders geniet voorkeur vir alle aanstellings en swakker dienste word gelewer in swart en bruin woongebiede.

“Gelukkig is die jeug van vandag meer gesofistikeerd en weet dat ‘n jakkals nooit sy streke los nie,” het Marius Fransman, ANC-voorsitter in die Wes-Kaap, gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae