Groenteboere in Wes-Kaap trek noustrop

Die Wes-Kaapse regering in samewerking met die privaatsektor soek glo na maniere om 45 groenteboere te ondersteun, maar die boere bly skepties oor die belofte nadat die McCain-fabriek hul sluiting in George aangekondig het.

Philip Terblanche, voorsitter van die Outeniqua-boerevereniging, het  aan Sake 24 gesê die sluiting van die groentefabriek in George gaan verskaffers van kunsmis, saad en vervoer raak, asook ongeveer 500 seisoenale werkers.

McCain sluit eerder die fabriek as om dit te verkoop omdat hy nie ‘n mededinger wil hê nie, sê boere.

Groenteboere wat aan die George-fabriek lewer, het gediversifiseer, maar hulle gaan die knyp voel. “As ons regering enigsins iets vir landbou voel, kan hulle regtigwaar kyk hoe McCain gehelp kan word deur minstens die invoer van bevrore groente te beperk, sê een vooraanstaande boer.

Mededinging van goedkoop ingevoerde bevrore groente, veral uit China, het oor die afgelope drie jaar toegeneem. Daar was ook ‘n skerp toename in die invoer van bevrore groente uit Wes-Europa.

“Wes-Europese boere kry landbou-subsidies en boonop is die klimaat vir die verbouing van groente, danksy die nodige konstante reënval, daar beter as in Suid-Afrika. Die meeste van ons produsente se groente, veral bone, word besproei wat gepaardgaande water- en elektrisiteitskoste meebring,” sê Louis Wolthers, besturende direkteur van McCain Foods SA.

Hy het gesê dat mededinging deur ingevoerde groente die rede is vir die sluiting van die fabriek. Gebiede in Limpopo en op die Hoëveld onder besproeiing voorsien voorts aan die behoefte.

Wolthers sê elektrisiteit is ‘n groot koste want die verkoelingsaanleg moet teen volle krag werk, al is dit nie vol nie. Vervoerkoste speel ook ‘n rol weens lang afstande tussen produsente en die ­George-verwerkingsaanleg.

Maak 'n opvolg-bydrae