NOP of IPAP?

Die DA gaan die Nywerheidsbeleidsaksieplan teenstaan wanneer die minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, dit vandag aan die parlementêre portefeuljekomitee voorlê.

Die plan, bekend as die IPAP, is vroeër vandeesmaand deur Davies bekendgestel nadat dit in Maart deur die kabinet aanvaar is. Die dokument is daarop gemik om ekonomiese groei te skep en behels spesifieke planne vir nywerheidsontwikkeling.

Die DA se woordvoerder oor Handel en Nywerheid, Wilmot James sê die IPAP 2013 is daarop gemik om Cosatu te paai en verwerp die Nasionale Ontwikkelingsplan.

James sê die Ontwikkelingsplan moet die bloudruk wees vir die land se groei, werkskepping en die ekonomiese agenda. Hy sê enige dokument wat die Nasionale Ontwikkelingsplan weerspreek, moet verwerp word. Hy het vroeër gesê daar is wel voordele aan IPAP.

Van James se besware is dat die benadering tot ‘herstrukturering’ impliseer te veel ingryping deur die staat. ‘n Ligte herbalansering deur die staat sou beter wees.

Nie elke probleem in die ekonomie vereis ‘n nuwe regeringsprogram nie, sê hy. IPAP se standpunt is dat die regering alleen al die land se probleme kan oplos. Die verhoging van die rol van die staat doen presies die teenoorgestelde van wat IPAP sê dit veronderstel is om te doen: dit ontmagtig.

Proteksionisme en verhoogde staatsbesteding sal nie mededingendheid verbeter nie. Maar James gee toe dat in beginsel, kan plaaslike aankope ‘n nuttige industriële beleidhulpmiddel wees.

IPAP wil werkskepping in die vervaardigingsektor aanmoedig, maar moet met die veranderende globale ekonomie rekening hou, insluitend die skakeling tussen dienste en vervaardiging.

Maak 'n opvolg-bydrae