In oproer dié naweek in Soweto is ‘n KFC oorkant die Elias Motsoaledi-plakkerskamp afgebrand en een mens dood. Inwoners sê die munisipaliteit skeep hulle af, terwyl ander gebiede voorkeur kry.
Die betogings het Saterdagaand in geweld ontaard. Twee minibustaxi’s en ‘n bakkie is ook aan die brand gesteek.
‘n Groot polisieteenwoordigheid in die omgewing is ontplooi om hernude onluste te voorkom.
‘n Woordvoerder van die JMPD, Edna Mamonyane, het bevestig dat die Metropolisie die gebied monitor.
Die hele Gautengse polisiediens is gemobiliseer, het Beeld berig. Die onrusgebied word deur gewapende lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid, polisielede in gepantserde voertuie en metropolisielede gepatrolleer.
Inwoners van die plakkerskamp is ontevrede oor ‘n gebrek aan lopende water en elektrisiteit asook huisvesting.
