Die oorlewende verdagte in die Boston-marathon bomaanvalle is formeel aangekla. Die Amerikaanse departement van Justisie sê die 19-jarige Dzhokhar Tsarnaef is daarvan aangekla dat hy wapens van massa-vernietiging gebruik het.
Hy kan die doodstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word. Hy is Vrydagaand gewond en gevange geneem ná ‘n uitgebreide soektog waarin sy ouer broer en vermeende medepligtige, Tamerlan Tsarnaef dood is.
‘n Woordvoerder van die Withuis sê Tsarnaef sal nie as ‘n sogenaamde “landsvyand” behandel word soos wat sommige Republikeine in die Kongres voorgestel het nie.
Dié status vir verdagtes het na vore gekom ná die terreuraanvalle op 11 September 2001. Dit het beteken dat verdagtes minder regte as gewoonlik het. Drie mense is in die Boston marathon-ontploffings dood en meer as 180 is beseer.
