Afrikanerkultuurbond verwelkom herstel van Pretoriase straatname

Die Hoofbestuur van die Afrikanerkultuurbond verwelkom die uitspraak in die ‘Straatnaamsaak’, wat deur die Burgerregte-organisasie, Afriforum, teen die Tshwane munisipaliteit aanhangig gemaak is.

Die regspraak van regter Bill Prinsloo in die Pretoria Hooggeregshof, wat beveel dat die verwyderde straat name weer opgerig moet word, word as ‘n tydige en betekenisvolle sege vir die handhawing en bevordering van kultuurregte van etniese minderhede beskou.

In internasionale verband word uitvoerig aandag gegee aan strukture en prosesse wat kultuur- en taalregte van volke beskerm en bevorder, hiervan kan verskeie voorbeelde aangehaal word. Hierteenoor is die ANC-staat se uitvoering van internasionale ooreenkomste en konstitusionele reëlings, ‘n tragedie.

Instede van ‘n nakoming van regs- en wetsreëlings, streef die huidige ANC-staat na assimilering en die uiteindelike uitwissing van die unieke en besondere kultuur-, taal- en historiese erfenis van Suid-Afrika.

Die Afrikanerkultuurbond beywer hom vir die handhawing en bevordering van Afrikaners se identiteit. Hierdie identiteit is die vergestalting van waardes en ideale en word simbolies geartikuleer deur persone of leiersfigure wat ‘n besondere bydrae tot die Afrikaner se voortbestaan gelewer het. Die persone wat deur middel van straat- en skoolname, Hospitale, Museums en ander simbole gehuldig word, is nie net oppervlakkige verwysings nie, maar verpersoonlik die oortuigings van ‘n unieke volksgemeenskap. Wat meer is, is dat die betrokke persone en instansies bykans sonder uitsondering in hulle strewe na behoud van die Afrikanervolkseie en ontwikkeling van die Afrikanervolk, hulle uit oortuiging ook erkenning en waar toepaslik die uitbouing van die volkseie van ander taal- en kultuurgroepe van Suid-Afrika bepleit en bevorder het. Die optrede word gesien in die optrede van die Groottrekleiers, die Boere Republiekleiers en die Afrikanerleiers sedert 1910.

Volgens, dr Christo Pretorius, ondervoorsitter van AKB is die ‘Struggle-ideologie’ van die ANC-staat nie ‘n volhoubare lewensbeskouing nie. ‘Die kern-kenmerke van volke word nie met ‘n rooistreep uitgewis nie.’

Die AKB dra sy waardering aan Afriforum en ander kultuurinstansies oor en verbind hom opnuut daartoe om die brose erfenis van ons gemeenskap te koester en ander volksgemeenskappe se uniekhede te erken.

Maak 'n opvolg-bydrae