Dina Pule, die minister van kommunikasie, het Maandag tydens ‘n mediakonferensie gesê dat ‘n reeks artikels deur die Sunday Times ‘n smeerveldtog is in ‘n poging om haar af te pers.
“Dié veldtog was ‘n hoogs gesofistikeerde komplot om my af te pers,” het Pule aan joernaliste in Johannesburg gesê.
“Die Sunday Times het gedink hulle kan my in ‘n hoek dryf.”
Pule het oor die besonderhede van verskeie artikels, wat haar onder andere van wanbesteding beskuldig, uitgebrei en gesê die koerant wil haar as ‘n korrupte minister uitbeeld sonder dat dit enige bewyse het.
Die minister het bygevoeg dat die saak met die persombudsman opgeneem is.
Sy het gesê dat ‘n familielid van een van die joernaliste so desperaat was vir ‘n ontmoeting dat hy selfs ‘n liefdesverhouding voorgestel het.
Die redakteur van die Sunday Times, Phylicia Oppelt, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
Die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange het in Maart vanjaar ‘n ondersoekspan aangestel om Pule se verhouding met die sakeman Phosane Mngqibisa te ondersoek.
Van die kwessies wat ondersoek word sluit in of Pule haar verhouding met Mngqibisa aan die parlement verklaar het en of sy finansieël uit die verhouding gebaat het.
Opposisiepartye eis reeds maande lank Pule se kop weens beweerde ongerymdhede rakende ‘n ICT Indaba van die departement van kommunikasie en die minister se rol daarin.
Volgens die Sunday Times is ‘n ondersoekspan aangestel om Pule se beweerde romantiese verhouding met Mngqibisa te ondersoek.
