‘n Inwoner van Gordonsbaai wil ‘n polisiebeampte dagvaar omdat dié glo ‘n foto van sy stiefseun op Facebook gepubliseer het en hom van diefstal beskuldig het, is Maandag berig.
The Star het berig dat Philip Brink, 53, beplan om die polisievrou vir R500 000 te dagvaar vir naamskending en emosionele trauma wat spruit uit ‘n Facebook-inskrywing.
Die vrou het die boodskap in Afrikaans op Facebook gepubliseer ná haar seun se selfoon op 4 April gesteel is.
“My seun en sy vriende is vanaand van hulle selfone beroof deur twee varke, en die varke spog steeds dat hulle hulle gaan doodsteek, net soos hulle ‘n ander kind by die winkel doodgesteek het…,” het die inskrywing gelui.
“Hulle het die kinders aangeval en alkohol in hulle kele afgegooi.”
Brink se stiefseun, Kyle Yon, 20, het homself aan die polisie oorhandig. Hy is steeds in aanhouding, en sy beweerde medepligtige is steeds op vrye voet.
“[Die polisievrou] het aanlyn gegaan en foto’s van hom gelaai sonder om te weet of hulle skuldig is of nie,” het Brink gesê.
“Sy het hulle ook daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by ‘n aanval op ‘n ander jong man wat my 13-jarige dogter en haar vriende geken het.”
Brink het gesê sy vrou sukkel om te slaap sedert die insident en is verleë omdat haar kollegas ook daarvan weet.
