President Jacob Zuma het die belangrikheid van Suid-Afrika se betrekkinge met China benadruk voor president Xi Jinping se besoek aan die Uniegebou in Pretoria.
Die nuutverkose Chinese staatshoof is in die land vir die BRICS-beraad wat vandag in Durban begin. Die twee leiers sal na verwagting verskeie ooreenkomste onderteken. Zuma sal vanmiddag ook president Vladimir Poetin van Rusland in Durban ontmoet.
Pres. Jacob Zuma het Maandag gesê ‘n spesiale forums sal ná die spitsberaad afgevaardigdes van Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika (Brics) en 15 staatshoofde van Afrika-lande byeenbring om ontwikkeling van infrastruktuur en industrialisering te bespreek.
‘n Brics-sakeforum sal tydens die spitsberaad bekend gestel word. Die ministers van finansies van die Brics-lande sal hul ondersoek na die lewensvatbaarheid van ‘n Brics-ontwikkelingsbank openbaar maak.
Die internasionale klub, bestaande uit 125 afgevaardigdes van China, 125 van Rusland, 74 van Indië, 60 van Brasilië en 242 van Suid-Afrika, sal sake wat wissel van infrastruktuur, energie, finansiële dienste en mynbou asook die verwerking van mynbou- en landbouprodukte, onder die loep neem.
Aanbevelings en voorstelle van die afvaardigings sal na afloop van die spitsberaad voorgelê word aan die leiersforum van die Brics en Afrika-lande.
