Suid-Afrika is by ‘n kruispad weens die hernieude arbeidsonrus in die mynbousektor, het Pravin Gordhan, minister van finansies, Dinsdag gewaarsku.
Gordhan het in die parlement gesê werkers, die regering en ondernemings moet saamwerk om verdere werksverliese te bekamp.
Gordhan het ook gewaarsku dat ondernemings kan sluit en dat beleggers vertroue in die ekonomie kan verloor.
“Die huidige onsekerheid op die gebied van arbeidsverhoudinge in die mynbou en ander sektore vereis daadwerklike optrede deur die georganiseerde arbeidsektor, ondernemings, burgerlike leiers, en die regering,” het Gordhan gesê.
“Ons is almal saam in die situasie. As ons nie ons arbeidgeskille oplos nie, is ons almal verloorders.”
Gordhan het gesê sinvolle oplossings kan tot die voordeel van alle partye strek.
“As ons ‘n gebalanseerde, regverdige, verantwoordelike oplossing kry en as ons almal saamstaan sal ons meer belegging, hoër indiensneming, en verbeterings in lewensomstandighede sien.”
“Dit is die keuse wat voor ons lê.”
