Tien mynwerkers is Dinsdag beseer toe veiligheidswagte by die Lanxess-chroommyn in Rustenburg rubberkoeëls gebruik het om stakers uitmekaar te jaag, het die polisie in die Noordwes gesê.
Brig. Thulane Ngubane het gesê 10 mynwerkers is na ‘n mynhospitaal geneem vir behandeling.
Sowat 500 mynwerkers het vroeg Dinsdagoggend by die myn byeengekom. Hulle het glo veiligheidswagte by die myn gedreig, waarna die wagte met rubberkoeëls losgebrand het.
Die polisie is kort na die voorval na die toneel ontbied.
Mynwerkers het later Dinsdag steeds naby die myn saamgedrom om uit te vind wat die uitkoms was van ‘n vergadering tussen vakbonde en die myn se bestuur.
Die werkers se eise is nog nie bekend nie. Ngubane het bygevoeg dat niemand tot dusver in hegtenis geneem is nie.
Lanxess was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
