Zuma kry steun van De Klerk

Pres. Jacob Zuma het Dinsdag onverwagte steun gekry toe FW De Klerk uitgevaar het teen “doemprofete” wat die ondergang van die land voorspel.

De Klerk het gesê “afro-pessimiste” erken nie die vooruitgang wat wel in Suid-Afrika en Afrika gemaak word nie.

De Klerk het erken dat Suid-Afrika “ernstige internasionale beeldprobleme” het, maar hy het gesê die land het 18 jaar van bykans ononderbroke ekonomiese vooruitgang beleef.

Hy het bygevoeg dat aansienlike vooruitgang gemaak is in die stryd teen armoede, die verbetering van toegang tot behuising, water en elektrisiteit.

Sy uitlatings sluit aan by dié van Zuma en die ANC, wat onder skerp kritiek deurloop oor korrupsie, arbeidsonrus en werkloosheid.

De Klerk het egter nie net goeie woorde vir die regering gehad nie.

“Ons vaar swak in daardie areas van nasionale aktiwiteit wat die verantwoordelikheid van die regering is,” het hy gesê.

“Ons is in die onderste 20% met betrekking tot die gehalte van onderwys, die sakekoste van misdaad; die voorkoms van MIV; en die doeltreffendheid van die arbeidsmark.”

Hy het egter gesê die regering is bewus van dié probleme, en werk daaraan om dit op te los.

“Afrika en Suid-Afrika is op pad vorentoe,” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae