Vakansieklubs moet ondersoek word

Die Verbruikerskommissie het gister tydens ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, na aanleiding van ‘n versoek van die Vryheidsfront Plus, bevestig dat hulle ‘n volskaalse ondersoek gaan loods na die vakansieklub-industrie. Daar gaan veral op die ses grootste maatskappye gefokus word.

Daar is kennis geneem van die klagte dat die industrie gebruik maak van misleidende bemarkingsmetodes en dat hy fokus op groepe wat maklik beïnvloedbaar is.

Volgens adv. Anton Alberts , die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het die party meer as 450 klagtes oor vakansieklubs van lede ontvang en het daarom die portefeuljekomitee genader om die saak onder die aandag te bring van die Verbruikerskommissie.

“Ons glo dat al die vakansieklublede wat vasgevang is in kontrakte wat hulle nooit kan beëindig nie en wat nie waarde vir hulle geld ontvang nie, wel geregtigheid sal sien,” sê adv. Alberts.

Die VF Plus nooi die publiek wat probleme met vakansieklubs het, om inligting te stuur aan adv. Alberts by help@vf.co.za. Die klagtes sal by die Verbruikerskommissie ingedien word vir verdere handeling.

Maak 'n opvolg-bydrae