Boston-verdagtes ‘kon nie aanpas’

Die Boston-bomverdagtes Dzhokhar en Tamerlan Tsarnaev is Moslems van Tsjetsjeense herkoms wat ‘n dekade gelede na die Verenigde State geimmigreer het, maar steeds noue bande met hul oorloggeteisterde geboorteland gehad het.

Dzhokhar, wat Vrydagaand in hegtenis geneem is, was ‘n stoeier op hoërskool en ‘n student aan die Universiteit van Massachusetts. Sy Twitter-profiel is tipies dié van die gemiddelde Amerikaanse tiener.

Bure en vriende het hom beskryf as hardwerkend en goedhartig en het hul skok uitgespreek oor sy beweerde betrokkenheid by Maandag se bomontploffings wat die lewe van drie mense geëis en meer as 180 ander gewond het.

“Hy was ‘n lieflike, lieflike kind,” het Larry Aaronson, ‘n buurman aan CNN gesê oor Dzhokhar.

“Jy kry mense wat sê ‘O, ek ken hom. Hy is nie instaat tot so iets nie.’ Dit is wat ek vir jou sê. Ek is net een van daardie mense.”

Terwyl Dzhokhar aktief was op Twitter en honderde boodskappe oor sy lewe en gedagtes met die wêreld gedeel het, is baie min bekend oor sy ouer broer, Tamerlan, wat dood is in ‘n skietgeveg met die polisie.

Tamerlan, ‘n 26-jarige ingenieurstudent wat ‘n boksliefhebber was, het by ‘n vorige geleentheid Amerikaanse owerhede se aandag getrek.

Die FBI het gesê agente het hom in 2011 ondervra op versoek van ‘n buitelandse regering, maar kon geen inligting bekom nie.

‘n Blad op die sosiale netwerk VKontakte, Rusland se weergawe van Facebook, sê Dzhokhar het vanaf 1999 tot 2001 ‘n laerskool in die stad van Makhachkala in Dagestan, suidelike Rusland bygewoon.

Dagestan grens aan die streek Noord-Kaukasus van Tsjetsjenië, wat sedert 1994 geteister word deur twee oorloë tussen Rusland se weermag en rebelle.

Die Tsarnaev-gesin het intussen die plofbare Kaukasus-streek verlaat.

“Ons is Moslems. Ons is Tsjetsjene, ons is etniese Tsjetsjene,” het Ruslan Tsarni, ‘n oom van die broers, aan die Amerikaanse media gesê.

“Iemand het hulle geradikaliseer. Dit is nie my broer nie.”

Tsarni het gesê sy broerskinders het in 2003 vanaf Kirgisië in Amerika aangekom en het asiel gekry. Hy het gesê hulle is “lafaards” wat nie by die Amerikaanse lewenswyse kon aanpas nie.

Op die vraag oor hoekom hulle terreur oorweeg het, het hy gesê die enigste rede waaraan hy kan dink is dat hulle nie aangepas het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae