Die kragreus Eskom oorweeg om die hoofkontrakteurs by die Medupi- en Kusile-kragstasies af te dank oor substandaard werk en vertragings, het Brian Dames, uitvoerende hoof, aan Business Report gesê.
“Ek kan jou verseker dat ons oorweeg het om hul kontrakte te kanselleer,” het Dames gesê.
“Ek het my span 18 maande gelede – toe ons probleme gehad het met strukturele staal – gevra dat ons na ander opsies kyk. Nie een van die opsies word uitgesluit nie.”
Dames het gesê Eskom oorweeg al sy opsies oor die kontrakte van twee hoofkontrakteurs, Hitachi Power Africa en Alstom.
Die kansellering van hul kontrakte is ‘n moontlikheid wat Eskom oorweeg het indien hulle versuim om die werk te bespoedig en verseker dat dit aan die gehaltestandaarde voldoen en tydsraamwerke nagekom word.
Volgens die koerant het die twee maatskappye die grootste kontrakte by Medupi en was die middelpunt van vertragings in die projekte.
