Parysaanvallers in ISIS-video

Nege mense wat verbind word met die terreuraanvalle in November in Parys, Frankryk, verskyn glo in ’n video wat die Islamitiese Staat (ISIS) Sondag uitgereik het.

Die nuusagentskap Reuters kon nog nie egtheid van die video bevestig nie.

Die ISIS-lede maak anti-Westerse uitsprake en dreig met ’n aanval op Brittanje.

Ontleders wat militante groepe se bedrywighede op sosiale media monitor, sê die video voldoen aan die kriteria van ‘n amptelike ISIS-verklaring.

Die video is op ISIS se amptelike kanaal op die sosiale medium, Telegram, geplaas.

Die aanvallers in kamoefleer­uniforms word in ’n woestyngebied getoon voordat die Parys-aanvalle uitgevoer is. Verskeie van hulle gyselaars word in die video onthoof.

“Dit is die laaste bood­skappe van die nege leeus van die kalifaat wat uit hul lêplekke gemobiliseer is om ’n hele land, Frank­ryk, op sy knieë te dwing,” verklaar die verteller.

Nege mans in drie groepe het op 13 November verlede jaar ’n sport­stadion, restaurante en ’n konsertsaal in Parys aangeval.

Dene stem dat asielsoekers moet opdok

Die Deense parlement het oorweldigende steun aan ‘n voorstel toegesê ingevolge waarvan asielsoekers se waardevolle items afgeneem kan word om vir hul onderhoud te betaal.

Denemarke sê die beleid stel migrante gelyk aan werklose Dene, wat van hul bates van die hand moet sit voordat hulle toelaes kan eis.

Die parlement het ook planne goedgekeur wat tot die uitstel van gesinsasiel kan lei, het RSG berig.

Die wetsontwerp is deur menseregtegroepe gekritiseer.

ISIS beplan aanvalle op EU ‘sagte teikens’ vanuit asielkampe

Die Islamitiese Staat beplan glo spesiale terreuroperasies op “sagte teikens” in Europa in die vlugtelingkampe op Europese bodem en Frankryk is die land wat die grootste risiko loop, het die misdaadagentskap van die Europese Unie gesê.

Die model is die gelyktydige skietery by verskeie plekke in Parys in November waar 130 mense omgekom het, met die meeste van die bloedvergieting in ‘n konsertsaal in die ooste van Parys, het ​​Europol verklaar.

Dit is moontlik dat soortgelyke operasies “tans beplan en voorberei word,” het Europol gesê in ‘n verslag wat vrygestel is Maandag tydens ‘n vergadering van EU-ministers in Amsterdam.

“Die wye verskeidenheid van moontlike teikens in kombinasie met ‘n opportunistiese benadering van plaaslik gebaseerde groepe skep ‘n groot verskeidenheid van moontlike scenario’s vir toekomstige terroristebedrywighede.”

Terwyl Sirië die middelpunt bly, het die Islamitiese Staat “kleiner skaal” oefenkampe in die EU se 28 lidlande en in die Balkan vir groter taktiese vryheid geskep, sê Europol.

Frankryk het geen bewyse van terreurindoktrinasiekampe op sy grondgebied nie, het die minister van Binnelandse Sake Bernard Cazeneuve aan verslaggewers gesê.

Terwyl die bedreigingsvlak “hoog” in Europa bly en “uiters hoog” in Frankryk, het hy gesê die Europol-assessering voeg niks by tot wat Frankryk reeds bekend gemaak het nie.

“Die probleem is nie nasionaal nie, dis Europees, dit is globaal,” sê Cazeneuve. Hy word gerugsteun deur inisiatiewe om wapenhandel, paspoortbeheer van alle reisigers na Europa en kriminele databasisse strenger te beheer.

Die “sagte teikens” sluit infrastruktuur soos elektriese verbindings, kernkragsentrales of vervoernetwerke in, het Europol gesê.

EU beraadslaag oor Schengen-ooreenkoms

Ministers van binnelandse sake van die Europese Unie is in Amsterdam in Nederland byeen om grensbeheerstelsels te verskerp teen die invloei van migrante.

Die Duitse media het berig dat die land beheer verloor het oor die invloei en nie daarin kan slaag om asielkandidate wat afgekeur word, terug te stuur nie.

Die Schengen-ooreenkoms bepaal dat Duitsland se huidige grensbeheer in Mei sal verval.

Volgens berigte wil Duitsland en sommige ander lande hê dat die beheerstelsels tot aan die einde van 2017 verleng word.

Die migrante-krisis in Europa dreig om die Schengen-ooreenkoms van vrye beweging in Europa in die gedrang te bring met talle lande soos Hongarye wat met streng grensbeheer ingestel het.

Die EU se beleidshoof vir buitelandse sake, Federica Mogherini sê meer as 30 000 migrante het reeds vanjaar deur Turkye in Griekeland aangekom.

Arabiese lente bring armoede, opstande

Op 17 Desember 2010, het ’n jong, desperate Tunisiese straatverkoper, Mohamed Bouazizi, hom aan die brand gesteek uit protes oor werkloosheid en polisiemishandeling, wat opstand oral in die Arabiese wêreld laat versprei het.

Vyf jaar later het nog ’n jong Tunisiër, Ridha Yahyaoui, hom uit frustrasie omdat hy nie ’n werk kon kry nie, om die lewe gebring.

Dit het op dieselfde verarmde dorpe opnuut tot opstand gelei wat die bewind van Zine El-Abidine Ben Ali tot ’n val gebring het, het Reuters berig.

Indien Tunisië geloof is as die suksesverhaal van die Arabiese Lente, het dit ook ’n voorbeeld geword van die gevare verbonde aan die mislukking om die ekonomiese onbehaaglikheid, vervreemding en frustrasie van Noord-Afrika se jeug, die hoof te bied.

In Kasserine, die verarmde sentrale stad waar verlede week se protes begin het, het meer verstote jong mans gedreig om selfmoord te pleeg. Twee is beseer toe hulle van die dak van’n regeringsgebou afgespring het omdat hulle nie werk kry nie.

Die onluste het gou na ander dorpe in die noorde van die land versprei met betogers wat polisiekantore en die kantore van plaaslike owerhede bestorm het. Een polisieman is in die onluste dood.

Die betogers skree krete “werk, vryheid, waardigheid” wat ’n weerklank van die 2011 “Jasmyn Rewolusie” is en eise om politieke vryheid en ekonomiese geleenthede wat nie gematerialiseer het nie, weerklink.

Baie betogers neem die traak-my-nieagtige gesindheid kwalik van voormalige Ben Ali-bewind amptenare, soos pres. Beji Caid Essebsi, wat aan bewind gekom het nadat die rewolusie die outokraat gedwing het om in ballingskap uit die land te vlug.

Tunisië het grootliks daarin geslaag om die gewelddadige naskokke vry te spring wat ervaar is in ander Arabiese Lente-lande waar langdienende leiers in Egipte, Jemen en Libië tot ’n val gebring is, maar daardie lande steeds sukkel om stabiliteit te vind.

Ondanks ’n nuwe grondwet, wat ’n kompromis tussen sekulêre en ­Islamitiese partye was, en vrye verkiesings wat ’n model vir ’n streek is waar vuurwapens dikwels meer gewig dra as die stembus, het politieke vooruitgang nie ­ekonomiese ­voorspoed gebring nie. ­Werkloosheid het in 2015 op 15,3 persent gestaan, op van die 12 persent in 2010, vanweë swak ­ekonomiese groei en laer beleggings.

Universiteits-graduandi maak een derde van werklose Tunisiërs uit.

Dit bring onder meer mee dat middelklas, opgevoede Tunisiërs, Islamitiese militante werwers ten prooi val. Na raming veg meer as 3 000 Tunisiërs vir Islamitiese militante groepe in Irak en Sirië.

Siriese weermag neem belangrike jihad-bastion oor

Die Siriese weermag die laaste belangrike dorp onder jihadistiese rebellebeheer in die Latakia-provinsie, ’n bastion van pres. Bashar al-Assad, ingeneem.

Die staatsmedia het ’n weermagbron aangehaal wat gesê het Siriese gewapende magte, in samewerking met milisie, het beheer van die dorp Rabia geneem.

Die dorp was sedert 2012 onder beheer van ’n reeks rebellegroepe insluitende die Siriese Turke asook die al-Kaïda geaffilieerde Al-Nusra Front.

Volgens waarnemers het Rabia geval, nadat die weermag ’n verbete aanslag van stapel gestuur en die dorp omsingel het.

Senior Russiese militêre offisiere het die Siriërs bygestaan in die aanval en Russiese vegvliegtuie het na wat verneem word, ’n “kritiese rol” in die gevegte gespeel.

Met die val van Rabia het regeringsmagte ’n belangrike rebelle-toevoerroete deur die Turkse grens in die noorde afgesny.

Die val van Rabia kom nadat regeringsmagte die dorp Salma op 12 Januarie ingeneem het, ná maande se militêre operasies, waar rebelle sedert 2012 in beheer was.

Russiese vegvliegtuie het Saterdag die dorp Khasham ná aan die stad Deir al-Zor, onder bomme gesteek om van die jihadiste ontslae te raak.

Twee ander dorpe is in die voorafgaande 48 geteiken.

Russiese vegvliegtuie het die lugveldtog in Deir al-Zor onderneem waar Siriese regeringsmagte met die Islamitiese Staat (ISIS) wat die provinsie beheer, in gevegte betrokke is.

ISIS beset die stad sedert verlede Maart en het die afgelope weke ’n hernude aanslag teen gebiede van die stad wat nog in regeringshande is, van stapel gestuur.

Vegvliegtuie het ook ISIS se de facto hoofstad, Raqqa, die afgelope naweek geteiken.

Sneeustorms verlam ooste van VSA

Miljoene Amerikaners moes tonne sneeu buite hul huise verwyder nadat een van die ergste winterstorms in negentig jaar die oostelike deel van die land getref het.

Bykans 70 sentimeter sneeu het in Central Park in New York geval, die tweede meeste sedert daar in 1869 met rekordhouding begin is.

Ten minste 18 sterftes word met die uiterste toestande verbind.

In Washington sal die lughawens na verwagting steeds gesluit bly. Die stad se burgemeester, Muriel Bowser, sê dit sal dae neem om die sneeu op te ruim.

Sy het motoriste ook gevra om nie paaie te gebruik nie.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het intussen sy vlugte van Johannesburg na Washington DC en New York Sondag hervat nadat die reisbeperkings weens die sneeustorms opgehef is.

‘n Woordvoerder van SAL, Tladi Tladi, sê die besluit om die vlugte te hervat , is geneem na inligting wat daarom dui dat die weersituasie gaan opklaar of sodanig sal wees dat die SAL se vlugte op ‘n veilige manier daar sal kan land.

Meer as 5 000 vlugte moes gekanselleer word, hoofsaaklik in Noord-Carolina en Washington DC.

Die Amerikaanse deelstate Arkansas, Tennessee en Kentucky moes die ergste sneeu, ysreën en reën trotseer en in Arkansas en Tennessee is staatskantore Vrydag weens die storm vroeg gesluit.

Skole en universiteite in die suidooste moes ook sluit en inwoners is aangeraai om voorrade gebottelde water, kos en ander noodsaaklikhede aan te skaf.

Die Amerikaanse nasionale weerdiens het die storm as “verlammend” beskryf.

Trump: Swart kiesers hou meer van my as van Obama

Donald Trump, die sterkste kandidaat om die Republikeinse benoeming in die Amerikaanse presidentsverkiesing los te slaan, sê swart kiesers hou meer van hom as van die huidige swart president.

Hy het Saterdag gesê hy is vol vertroue hy kan sy teenstanders verslaan.

Hy het ‘n denkbeeldige skoot met ‘n handgebaar afgevuur en gesê: “Ek kan in die middel van Fifth Avenue staan en mense skiet en ek sal nie kiesers verloor nie.”

Trump se teenstanders probeer wit kiesers wat hom ondersteun as onnosel, ongekunsteld en agterlik voorhou en kla dat hulle nie “ingewikkelde beleidskwessies” begryp nie, in weerwil daarvan dat sulke “kwessies” meestal stukrag aan anti-wit beleid verleen.

Donald Trump het ook voorspel dat swart kiesers meer van hom gaan hou as van Barack Obama.

In ‘n onderhoud Sondag op Fox se “Media Buzz” het Trump verklaar dat daar reeds groot ondersteuning vir hom in die swart gemeenskap bestaan.

“Kyk, die Afro-Amerikaners is lief vir my, want hulle weet ek gaan werksgeleenthede terugbring,” het hy by die Trump International Hotel in Las Vegas gesê.

“Die waarheid is dat Obama niks vir hulle gedoen het nie.”

Trump het verlede week deur Iowa gereis en met gewone mense gesels, in plaaslike akkomodasie oorgeslaap en Sondagoggend kerk toe gegaan.

Hy is ook bekend daarvoor dat hy geen alkohol gebruik nie. Hy het egter die plaaslike biefstuk in die deelstaat waar eerste gestem sal word op 1 Februarie, geprys.

By ‘n geleentheid in Nashua, New Hampshire, het Jeb Bush, voormalige goewerneur van Florida, Trump weereens beledig en gesê sy konserwatiewe gesindheid is vals, dat hy ‘n liberale verlede het en daarna sonder ironie bygevoeg dat Trump daartoe neig om mense sleg te sê.

Bush se kanse op benoeming is nul alhoewel hy op die voordeel van buitengewone positiewe mediadekking kan staatmaak.

Die verbeeldinglose broer en seun van voormalige Amerikaanse presidente, se steun het sedert die begin van die benoemingstryd wankelrig gelyk.

Hillary, Bernie, Trump en Cruz stoei vir benoeming

Hillary Clinton en Bernie Sanders het mekaar Sondag gepak in die Demokratiese presidensiële benoemingstryd, die laaste keer voordat Iowa op 1 Februarie na die stembus gaan.

Clinton het sluikhoue na die gewilde Sanders in Charleston, Suid-Carolina probeer inkry.

Die twee kandidate het oor banke, lobbies, wapenbeheer en gesondheidsorg gestoei om swart kiesers te beïndruk.

Die ander kandidaat, Martin O’Malley, oudgoeweneur van Maryland, kon volgens ontleders, geen hond haaraf maak in die debat nie.

Na verwagting kan Sanders, ’n senator van Vermont, Hillary in New Hampshire op 9 Februarie verslaan.

Die Republikein, Donald Trump, het Maandag in sy toespraak aan 11 000 mense gesê hy sal “beleërde Christene” ondersteun.

Trump (69), die voorloper presidentskandidaat se verskyning by Liberty College in Virginië, is met dreigemente van studente-opstande begroet, maar hy het uiteindelik ontvanklike gehoor gehad.

Liberty is ’n evangeliese bas­tion. Trump en Cruz is tans in ’n taai stryd gewikkel in Iowa, die eerste staat wat op 1 Februarie sal stem vir die benoeming vir ’n Republikeinse presidentskandidaat.

Cruz se pa is ’n evangeliese predikant en Cruz reken daarom op steun vanuit die evangeliese gemeenskap.

Oudste Christen-monnikeklooster in Irak verwoes

Satellietfoto’s wat deur The Associated Press bekom is, het bevestig wat Midde-Oosterse geskiedkundiges en kerkleiers gevrees het: Van die oudste Christen monnikeklooster in Irak, het ‘n hoop rommel oorgebly.

Dis nog ‘n slagoffer van die Islamitiese Staat-groep (ISIS) se volgehoue vernietiging van erfenisplekke wat deur die groep as kettery beskou word.

Die St. Elijah monnikeklooster was die afgelope 1 400 jaar ‘n plek van aanbidding. In die vroeë millennia het geslagte monnike kerse in die nisse aangesteek en in die kapel en by die altaar aanbid.

Die Griekse letters, chi en rho, wat die eerste twee letters van Christus se naam is, is naby die ingang gegraveer.

Voor dit vernietig is, het die gedeeltelik gerestoureerde 27 000 vierkante voet klipgebou soos ‘n fort op ‘n koppie naby Mosul gestaan.

Deskundiges sê stootskrapers, swaar toerusting en waarskynlik plofstof is gebruik om van die klipmure in ‘n veld van grys stof te omskep.

St. Elijah is nou deel van die groeiende lys van meer as 100 godsdienstige en geskiedkundige plekke wat gestroop en verwoes is. Antieke monumente in die stede Nineve, Palmyra en Hatra het ook in die slag gebly.

Museums en biblioteke is geplunder, boeke is verbrand en kunswerke vernietig of verhandel.

Die monnikeklooster is in 590 gebou. Tragedie het in 1743 toegeslaan toe 150 monnike, wat geweier het om die Islamitiese geloof te aanvaar, daar deur ‘n Moslemgeneraal vermoor is.