Trump: Swart kiesers hou meer van my as van Obama

Donald Trump, die sterkste kandidaat om die Republikeinse benoeming in die Amerikaanse presidentsverkiesing los te slaan, sê swart kiesers hou meer van hom as van die huidige swart president.

Hy het Saterdag gesê hy is vol vertroue hy kan sy teenstanders verslaan.

Hy het ‘n denkbeeldige skoot met ‘n handgebaar afgevuur en gesê: “Ek kan in die middel van Fifth Avenue staan en mense skiet en ek sal nie kiesers verloor nie.”

Trump se teenstanders probeer wit kiesers wat hom ondersteun as onnosel, ongekunsteld en agterlik voorhou en kla dat hulle nie “ingewikkelde beleidskwessies” begryp nie, in weerwil daarvan dat sulke “kwessies” meestal stukrag aan anti-wit beleid verleen.

Donald Trump het ook voorspel dat swart kiesers meer van hom gaan hou as van Barack Obama.

In ‘n onderhoud Sondag op Fox se “Media Buzz” het Trump verklaar dat daar reeds groot ondersteuning vir hom in die swart gemeenskap bestaan.

“Kyk, die Afro-Amerikaners is lief vir my, want hulle weet ek gaan werksgeleenthede terugbring,” het hy by die Trump International Hotel in Las Vegas gesê.

“Die waarheid is dat Obama niks vir hulle gedoen het nie.”

Trump het verlede week deur Iowa gereis en met gewone mense gesels, in plaaslike akkomodasie oorgeslaap en Sondagoggend kerk toe gegaan.

Hy is ook bekend daarvoor dat hy geen alkohol gebruik nie. Hy het egter die plaaslike biefstuk in die deelstaat waar eerste gestem sal word op 1 Februarie, geprys.

By ‘n geleentheid in Nashua, New Hampshire, het Jeb Bush, voormalige goewerneur van Florida, Trump weereens beledig en gesê sy konserwatiewe gesindheid is vals, dat hy ‘n liberale verlede het en daarna sonder ironie bygevoeg dat Trump daartoe neig om mense sleg te sê.

Bush se kanse op benoeming is nul alhoewel hy op die voordeel van buitengewone positiewe mediadekking kan staatmaak.

Die verbeeldinglose broer en seun van voormalige Amerikaanse presidente, se steun het sedert die begin van die benoemingstryd wankelrig gelyk.

Hillary, Bernie, Trump en Cruz stoei vir benoeming

Hillary Clinton en Bernie Sanders het mekaar Sondag gepak in die Demokratiese presidensiële benoemingstryd, die laaste keer voordat Iowa op 1 Februarie na die stembus gaan.

Clinton het sluikhoue na die gewilde Sanders in Charleston, Suid-Carolina probeer inkry.

Die twee kandidate het oor banke, lobbies, wapenbeheer en gesondheidsorg gestoei om swart kiesers te beïndruk.

Die ander kandidaat, Martin O’Malley, oudgoeweneur van Maryland, kon volgens ontleders, geen hond haaraf maak in die debat nie.

Na verwagting kan Sanders, ’n senator van Vermont, Hillary in New Hampshire op 9 Februarie verslaan.

Die Republikein, Donald Trump, het Maandag in sy toespraak aan 11 000 mense gesê hy sal “beleërde Christene” ondersteun.

Trump (69), die voorloper presidentskandidaat se verskyning by Liberty College in Virginië, is met dreigemente van studente-opstande begroet, maar hy het uiteindelik ontvanklike gehoor gehad.

Liberty is ’n evangeliese bas­tion. Trump en Cruz is tans in ’n taai stryd gewikkel in Iowa, die eerste staat wat op 1 Februarie sal stem vir die benoeming vir ’n Republikeinse presidentskandidaat.

Cruz se pa is ’n evangeliese predikant en Cruz reken daarom op steun vanuit die evangeliese gemeenskap.