Swart spioen pryk eersdaags op Amerikaanse banknoot

Die Amerikaanse Tesourie het aangekondig dat die swart spioen, Harriet Tubman die eerste vrou in meer as ‘n eeu sal wees om op Amerikaanse banknote te verskyn.

Die onaansienlike bediende Tubman is in die 1820’s as ‘n slaaf gebore en het gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog op die Suide gespioeneer.

Sy sal die oudpresident Andrew Jackson, wat ‘n slawe-eienaar was, voor op die 20-dollar-noot vervang.

Die Unie het haar betaal om die bewegings van die Konfederale troepe te verraai.

In 1863, het die swart bediende kolonel James Montgomery en sowat 150 swart soldate op ‘n kanonboot vergesel met die inval in Suid-Carolina.

Die Unie het die Konfederale rebelle verras en toe die slawe wat in die afgebrande plantasies geskuil het, besef die Unie kan hul vryheid waarborg, het hulle uit alle rigtings na die bote begin aanstorm.

“Ek het nog nooit so ‘n gesig gesien nie,” het Tubman daarvan gesê van die 700 siele.

Sy word tans voorgehou as een of ander swart militêre genie wat ‘n veldslag teen die “rassistiese” Suide gewen het.

Die sekretaris van die Tesourie, Jacob Lew sê Tubman is ‘n geskiedkundige leierfiguur wat haar eie lewe op die spel geplaas het om ander re red.

Tubman se onvleiende gesig is verfraai vir die noot.

Volgens Tubman self het sy soos ‘n “onkruid” opgekom as kind.

Die Tesourie het planne laat vaar om een van die stigters van die Amerikaanse finansiële stelsel, Alexander Hamilton van die 10-dollar-noot te verwyder.

Trump en Hillary lyk sterk na New York

New York het die week voorverkiesings gehou en vir Donald Trump het die staat ‘n ryk oes aan afgevaardigdes ingehou.

Trump, Bernie Sanders en Hillary Clinton het een ding in gemeen: Hulle is almal New Yorkers en het hul bande met Amerika se grootste stad op die vooraand van die voorverkiesing gesmous.

Die drie het probeer om hulself as ware plaaslike inwoners uit te beeld en “New York-waardes” te verdedig wat deurlopend deur die Republikeinse kandidaat van Texas, Ted Cruz, verwerp is.

Trump het Cruz egter verneder by die stembus en Republikeinse party-amptenare het Woensdag, ‘n dag na Donald Trump se verpletterende oorwinning vergader om sy groeiende aanvaarding binne hul geledere te bespreek.

Hy het beide sy teenstanders Ted Cruz en John Kasich geklop en sodoende nader aan die 1237 afgevaardigdes gekom wat nodig is om die nominasie met ‘n volstrekte meerderheid te wen sonder ‘n betwiste konvensie.

Van die drie New Yorkers het Trump die beste gevaar. Hy en Hillary is nou die voorlopers.

Trump is die seun van ’n ryk ontwikkelaar en ’n Skotse immigrante-moeder. Die 69-jarige miljardêr het in ’n 23-vertrek weelde- woning met nege badkamers in ’n welvarende deel van Queens grootgeword.

Benewens sy eiendomsbelange het Trump vir tien jaar die realiteits­program, The Apprentice op TV aangebied wat hom na sitkamers oral in Amerika geneem het.

Bernie Sanders het op sy beurt gesê hy is baie trots daarop om ’n boorling van New York te wees, maar alhoewel Sanders die oorgrote meerderheid van die staat New York ingepalm het, het Clinton met die digbevolkte stedelike gebiede, veral in New York stad vir Bernie uitgestof.

Sy pa, ’n Poolse Jood, het sonder ’n sent op sy naam op die ouderdom van 17 jaar in Amerika aangekom. Sanders is in Brooklyn gebore en het in ’n nederige woonstel grootgeword en staatskole bygewoon.

Die 74-jarige het ’n politieke vergadering voor sy kindertuiste toegespreek en op Coney-eiland aan ’n worsbroodjie gesmul, maar vir die deftige kiesers in NYC was dit nie ‘n teken om vir hom te stem nie.

Amerika se voormalige presidentsgade, Clinton, is in Chicago gebore en het vanaf 2001 tot 2009 as senator vir New York gedien.

Sy besit ’n huis in Chappaqua, ongeveer ’n uur se reis noord van New York, wat sy in 1999 gekoop het om haar geregtig te maak om as kandidaat vir die senaat te staan.

“Ons het sy [Bernie Sanders] se gat geskop vanaand,” het ‘n Clinton-medewerker aan Politico gesê.

“Ek hoop dit oortuig Bernie om op te hou. Indien nie, fok hom!”

Clinton het met sowat 58 persent van die stemme teen Sanders se 42 persent gewen.

UV weier om name bekend te maak van studente wat aangekla word

Studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat vandeesweek kennisgewings ontvang het om voor ‘n dissiplinêre komitee te verskyn oor rassekonflik, sal nie geskors word hangende die verhore nie.

Die universiteit wil egter nie die name bekend maak van diegene wat kennisgewings ontvang het om te verskyn nie.

Hulle is aangekla weens hul beweerde betrokkenheid by die Shimlapark-bakleiery vroeër vanjaar, maar sal nie geskors word nie.

In ‘n verklaring het die UV se woordvoerder, Lacea Loader, erken dat dissiplinêre stappe teen ‘n aantal studente geneem word wat betrokke was by die voorval waarin ‘n Varsitybekerwedstryd tussen die Shimlas en Madibaz onderbreek is.

‘n Groep betogers het op die rugbyveld gestorm waarna wit toeskouers op die veld gehardloop het en die betogers van die veld verjaag het.

Loader sê studente wat onder die toeskouers was wat betogers op die veld aangerand het asook die betogers wat betrokke was by dade van vandalisme en ander wangedrag tydens die onrus van 22 Februarie tot 26 Februarie op die Bloemfontein-kampus het kennisgewings ontvang.

Sy sê die UV het ‘n verantwoordelikheid om dissiplinêr op te tree.

Diegene wat aangekla word is versoek om môre ‘n vergadering by te woon om reëlings te tref met betrekking tot die verhore.

Japan lamgelê deur twee aardbewings

Die twee aardbewings wat dele van die suide van Japan lamgelê het, se invloed word veel verder as die middelpunt van die rampgebied gevoel.

Alhoewel dit nie so erg was soos die verwoesting van die 2011-aardbewering en die tsunami nie, word vervaardiging direk geraak.

Motorvervaardigers veral, het sedertdien lesse oor ontwrigtings in die verskaffingsketting geleer.

Toyota Motor Corp, die motorvervaardiger wat die swaarste getref is, het produksie by sy fabriek in Kyushu gestaak, waar die aardbewings laat Donderdag en vroeg Saterdag plaasgevind het.

Tot dusver is 42 mense dood en byna 1 100 beseer. Honda Motor Corp het produksie by sy motorfietsfabriek in Kumamoto, die grootste stad wat deur die aardbewing geraak is, gestaak.

Díe fabriek is ernstig in die aardbewing beskadig en vanweë naskokke was dit onveilig om die gebou binne te gaan en die omvang van die skade te inspekteer.

Dodetal in Ekwador-aardbewing styg

Die dodetal in die aardbewing in Ekwador in Suid-Amerika is opnuut opwaarts aangepas nadat dit intussen weer skerp gestyg het, het RSG berig.

Berigte is ontvang van bevestiging deur Ekwador se president, Rafael Correa dat die dodetal nou op 272 staan.

Die skudding het 7,8 op die Richterskaal gemeet, sowat 160km van die hoofstad Quito.

Reddingswerkers en troepe soek steeds na moontlike oorlewendes van eergister se aardbewing waarin meer as 2500 mense beseer is.

Tienduisend soldate en 3500 polisielede is ontplooi te midde van die omvanryke skade.

Brûe het meegegee en woonstelgeboue het onder andere ingetuimel.

Die adjunkpresident, Jorge Glas het bevestig dat internasionale hulp aangebied is.

Clinton uitgevang dat sy lieg oor Benghazi

Die konserwatiewe groep Judicial Watch het dokumente vrygestel wat verband hou met die aanval in Benghazi op 11 September 2012, waartydens ‘n Amerikaanse ambassadeur en ‘n paar CIA-grootkoppe vermoor is.

Die dokumente bewys dat die Obama-administrasie en in besonder Hillary Clinton geweet dat die aanval in Benghazi deel was van ‘n Al-Qaeda-operasie.

Clinton en die Obama-administrasie het in die openbaar beweer die aanval was in reaksie op ‘n anti-Moslem film wat op die Internet versprei is.

Judicial Watch het telefoontranskripsies van die aand van 11 September 2012 vrygestel waarin die destydse minister van buitelandse sake Hillary Clinton die destydse Egiptiese premier Hisham Kandil vertel die terreuraanval “het niks te doen met die film nie”.

Clinton het ook haar dogter ingelig per e-pos dat die aanval deur ‘n “Al-Qaeda-agtige groep” uitgevoer is.

Die Amerikaanse administrasie kon dit nie erken nie, aangesien hulle besig was om die terreurgroep te befonds om ‘n staatsgreep in Sirië te gaan uitvoer.

Net ure voordat die ambassadeur vermoor is, het hy gesprekke met ‘n Turkse verteenwoordiger gehad wat die Siriese operasie sou bestuur. Clinton kon nie bekostig dat dit op die lappe kom nie.

Opposisie stook rewolusie na oproermaker in aanhouding sterf

Die leier van Gambië se sterkste opposisieparty is Saterdag ná ’n tweede ronde betogings in dié land in hegtenis geneem.

Die opposisie stook ‘n rewolusie in die land.

Lede van die opposisieparty eis antwoorde oor die dood van een van die party se leiers terwyl hy in aanhouding was.

Intussen is twee ander ook glo in aanhouding dood, maar Reuters kon nie die name verskaf nie.

Die United Democratic Party (UDP) se leier, Ousainou Darboe, ’n menseregte-advokaat, is saam met drie ander partyleiers deur die polisie weggelei kort nadat hulle met ’n protesoptog vanaf sy huis in die hoofstad, Banjoel, begin het.

Veiligheidsmagte gewapen met aanvalsgewere, het volgens ooggetuies die betogers met traangas bestook.

“Ousainou Darboe en ander senior uitvoerende lede is in hegtenis en verskeie mense is aangerand,” het Modou Ceesay, ’n ooggetuie aan AFP gesê.

Sowat 150 ondersteuners het saam met Darboe geëis dat geregtigheid geskied nadat die party se sektretaris, Solo Sandeng, Donderdag in polisie-aanhouding gesterf het.

Gambië het onlangs aangekondig dat hulle as gasheer vir die Organisasie van Islamitiese Samewerking se beraad in 2018 sal optree.

Aan die einde van die jaar sal die inwoners ‘n nuwe president kies.

Gambiaanse opposisielede het verlede week ‘n beroep gedoen dat perke vir presidensiële termyne in Gambië ingestel word.

President Jammeh is een van ‘n aantal Afrika-leiers wat termynperke uit hul grondwet gehaal het na ‘n referendum.

Laerhuis stem teen Rousseff

Brasilië se laerhuis het Sondag ‘n tweederdemeerderheid behaal wat beteken dat pres. Dilma Rousseff in ‘n staat van beskuldiging gestel kan word.

Indien die land se senaat nou ook ten gunste van dié stap teen Rousseff stem, sal sy uit haar pos geskors word terwyl die senaat oor haar lot besin.

Bewerings is ondersoek dat Rousseff wetgewing oor begrotings in 2014 oortree het om haar herverkiesing te verseker. Volgens die president word die bewerings aangedik om haar te dwing om te bedank.

Terwyl Rousseff om politieke oorlewing veg, sukkel haar regering te midde van ‘n resessie en die land se grootste korrupsieskandaal nog.

Rousseff beweer adjunkpresident Michel Temer lei ‘n sameswering om haar uit die kussings te lig.

“Hulle werk nou openlik saam om ‘n president wat wettig verkies is, te destabiliseer,” het Rousseff vroeër gesê.

Haar opmerking kom na ‘n stemposboodskap waarin Temer aan ondersteuners vra dat hulle regering van nasionale eenheid eis om Brasilië se politieke krisis op te los.

Hy het die stemposboodskap klaarblyklik opsetlik laat uitlek waarin hy sy aanvaardingtoespraak “as hy binnekort oorneem by Rousseff”, oefen.

Temer sal waarneem as Rousseff uit die kussings gelig word. Hy het ontken dat hy teen Rousseff saamspan.

Duitsland gaan migrante dwing tot integrasie

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, se regerende koalisie het die week ooreengekom op streng maatreëls om migrante en vlugtelinge te integreer.

Dit sluit sanksies in teen diegene wat versuim om aan programme, soos taalklasse, deel te neem.

Die ooreenkoms is tydens ’n ses uur lange laatnag onderhandeling tussen Merkel se konserwatiewe Christen Unie (CDU) en die Sosiaal Demokrate (SPD) bereik, en sluit planne vir nuwe teenterreurwetgewing in.

Die wetsontwerp op integrasie het ’n wortel-en-stok-benadering wat gesubsidieerde kursusse voorsien om nuwe aankomelinge te help om aan te pas by die Duitse leefwyse.

Die migrante sal ook in klein dorpies gevestig word en uit groot stede gehou word. Sodoende sal die Duitsers ook nie hoef te vrees vir hul veiligheid nie, sê politici.

Die leier van die SPD sê hulle wil nie omheinde veiligheidsbuurte in Duitsland sien soos in die VSA nie.

Die migrante wat nie aanmeld vir die opleiding nie, se verblyfpermitte sal geweier word.

Parys-terreurverdagte het Duitse kernsentrum se planne gehad

Salah Abdesalam, ’n hoofverdagte in die Parys-terreuraanvalle, het dokumente oor die Duitse kernnavorsingsentrum, Juelich in sy woonstel in die Molenbeek-gebied van Brussel gehad, het ’n groep Duitse koerante gister berig.

Juelich is ná aan die grens met België geleë en kernafval word daar geberg, het Reuters berig.

Die sentrum het in ’n verklaring gesê daar is geen aanduidings van gevaar nie, maar dat hulle in kontak met veiligheidsowerhede en kern-toesighouers is.

Kommer dat Islamitiese militante hul aandag op die kernnywerheid se swak plekke toespits, het opgelaai ná die aanvalle in Brussel waar selfmoordbomaanvallers die lewens van 32 mense geëis het.