Selfmoordbommers tref drie stede in Saudi-Arabië

Vier mense is dood nadat selfmoordbomaanvallers drie stede in Saoedi-Arabië geteiken het.

In Medina het ‘n selfmoordbomdraer homself naby die stad se veiligheids-hoofkwartier opgeblaas in wat beskryf word as ‘n aanval deur ISIS.

Die ontploffing was nie ver van die moskee van die profeet, waar Mohammed begrawe is nie.

Nog ‘n selfmoordbomaanvaller is dood in Qatif wat die tuiste van die Sjiitiese minderheid is.

Moslems het ‘n oproep om eenheid gedoen.

Twee mense is ook beseer in die derde selfmoordbomaanval by die Amerikaanse konsulaat in die stad Jeddah.

Veiligheidsmagte is van mening dat dit geörkestreerde aanvalle was om saam te val met die einde van Ramadan.

Qari Ziyaad Patel, 36, van Suid-Afrika, was by die moskee toe hy die ontploffing gehoor het.

Hy het gesê baie het eers gedink dit is die klank van tradisionele, feestelike kanonvuur, maar toe het hy die grond voel skud.

“Die vibrasies was baie sterk,” het Patel gesê aan die AP nuusagentskap. “Dit het geklink soos ‘n gebou wat ingeplof het.”

Katolieke voer openlik veldtog vir verenigde Ierland na Brexit

Protestantse Unioniste staan glo al tou om Ierse paspoorte in Belfast te bekom, iets wat hulle voorheen nooit sou oorweeg nie, het Reuters berig.

Ook in Belfast voer eens stil Katolieke nasionaliste openlik ‘n veldtog vir ‘n verenigde Ierland, alles tekens van groot veranderinge in die Verenigde Koninkryk se voormalige geweldgeteisterde provinsie.

Dit volg nadat Brittanje gestem het om die Europese Unie te verlaat, maar Skotland en Ierland daarteen gestem het.

Agtien jaar ná ‘n vredesooreenkoms dekades se geweldpleging tussen hoofsaaklik Katolieke nasionaliste en Protestante Unioniste, het die Brexit-stem woelinge in Ierland ontketen.

Vir die Katolieke wat ‘n verenigde Ierland voorstaan asook diegene wat verkies om deel van die Verenigde Koninkryk te bly, het Brittanje se uittrede uit die EU, nuwe moontlikhede tot eenheid geskep.

Meer as 3600 mense is dood in gevegte in die laat 1960’s en laat 1990’s, tussen Katolieke wat gesê het hulle wil by Ierland aansluit en protestante wat deel van die VK wou bly.

Terwyl hoër geboortesyfers onder Katolieke hulle binne ‘n generasie in die meerderheid in Noord-Ierland sal stel, het meningspeilings voorheen konsekwent getoon dat soveel as die helfte van die Katolieke stem steeds die stabiliteit van die Verenigde Koninkryk verkies.

Ná Brexit sal die Katolieke stem waarskynlik verkies om deel te wees van Ierland en maklik wen.

Alhoewel die twee strydende partye in 1998 ooreengekom het om die wapen neer te lê, het Sinn Fein tans ‘n geleentheid raakgesien om weer die kwessie oor eenheid aan te roer.

Australië se verkiesing dra die China-stempel

Onafhanklike kandidate, wat waarskynlik ‘n naelbyt-Australiese verkiesingsuitslag sal bepaal, het nou op die voorgrond getree.

Een van hulle het anti-Asiatiese retoriek, wat 20 jaar gelede vir die eerste keer gehoor is, ingespan en die eerste minister, Malcolm Turnbull, is in die spervuur vir ‘n mislukte politieke dobbelspel.

Gerugte doen die rondte dat Turnbull ‘n nuwe verkiesing sal aankondig om die politieke dooiepunt op te los, maar die Arbeidersparty verkeer in skok (foto hierbo).

Pauline Hanson, die stigter van die kontroversiële One Nation-party, het die doodloopstraat wat tot Saterdag se kop-aan-kop-stemmery gelei het, gebruik om haar nasionalitiese agenda te bevorder.

Sy het in 1996 internasionale omstredenheid verwerf vir haar uitlatings. Dié keer het sy gewaarsku dat Australië “deur Asiate oorspoel” word.

Die magsvakuum wys tot hoe ‘n mate Turnbull se dobbelspel om albei huise van die parlement te ontbind, skeefgeloop het.

Hy wou glo ontslae raak van kleiner partye en onafhanklikes om die weg te baan vir sy hervormingsagenda.

Turnbull het voorheen gewaarsku dat Australië se hegte bande met die VSA en militêresamewerking kan lei tot groter spanning met China, iets wat die land nie ekonomies sal kan bekostig nie.

Israel wil stemme uit Afrika koop om negatiewe beeld om te keer

‘n Standbeeld (foto hierbo) is opgerig by Aero-strand suid van Uganda se hoofstad, Kampala, van die ontslape Yonatan Netanyahu.

Yonatan was die broer van Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, en ‘n offisier in die Israeliese weermag se elite-eenheid, Sayeret Matkal.

Hy is dood toe Israel ‘n reddingspoging op die internasionale lughawe Entebbe in Uganda in 1976 uitgevoer het om gyselaars te bevry.

Premier Netanyahu is Maandag in Uganda verwag om die 40ste herdenking van Operasie Entebbe te herdenk.

Israel en Uganda handhaaf glo goeie betrekkinge.

Die Eerste Minister het gesê sy doel is om Afrika-stemme by die VN en ander internasionale forums te gebruik om die negatiewe sentiment teen Israel te bekamp.

Hy sal met die leiers van sewe Afrika-lande vergader: Uganda, Kenia, Rwanda, Ethiopië, Suid-Soedan, Zaïre en en Tanzanië.

“As ons daarin slaag om die 54 lande van Afrika te oorreed, sal die outomatiese meerderheid teen Israel [in die internasionale gemeenskap] wegval langs die pad,” het hy gesê.

Netanyahu het opgemerk dat daar ‘n tendens onder sekere Afrika-state is om óf teen Israel te stem òf buite stemming te bly oor belangrike internasionale kwessies.

Volgens Netanyahu, het Afrika-lande twee basiese behoeftes waarmee Israel kan help. Die eerste is veiligheid, en die stryd teen terrorisme en die tweede is Israeliese tegnologie op die gebied van landbou, water, energie en gesondheid.

Britse soldate staar klagtes van oorlogsmisdade in gesig na Chilcot-verslag

Britse soldate is woedend en ontsteld dat die Chilcot-verslag wat oor die oorlog in Irak handel gebruik kan word om Britse troepe te vervolg, terwyl Tony Blair skotvry daarvan afkom.

Aanklaers in Den Haag, wat gewoonlik swart diktators lukraak oor volksmoord vervolg, het bevestig dat hulle die verslag van 2,6 miljoen woorde as bewys vir oorlogsmisdade deur die Britse troepe gaan gebruik.

Maar die Internasionale Strafhof (ICC) het gesê die voormalige eerste minister gaan nie aangekla word nie, selfs al het hy die 2003-inval geloods wat die lewens van 179 Britse dienspersoneel en tienduisende burgerlikes gekos het.

Individuele soldate gaan nou gejag word, maar die voormalige Arbeiderspartyleier Blair, wat gelieg het oor wapens van massavernietiging om Saddam Hussein uit die weg te ruim, ontduik sy verantwoordelikheid.

Sir John Chilcot se ondersoek, wat sewe jaar geneem het en meer as £10 miljoen verkwis het op die verslag, sal Woensdag vrygestel word.

Dit sal na verwagting Blair se rol sterk kritiseer, oor “die misbruik van intelligensie” om sy saak vir die oorlog te versterk.

Maar die ICC kyk reeds indringend na meer as 1000 bewerings dat die Britse magte Irakse gevangenes gemartel en mishandel het.

Dit beteken dat soldate wat reeds deur die Britse howe kwytgeskeld is, nog die beproewing van oorlogsmisdaadklagtes in die gesig staar.

Sersant Kevin Williams, wat reeds 12 jaar in die howe deurgebring het voordat hy vrygespreek is van die moord op ‘n burgerlike in Irak, het gesê: “Die kans dat soldate eerder ondersoek kan word as Blair is heeltemal walglik.

“Soldate is ingestuur in Irak gebaseer op vervaardigde bewyse dat Saddam ‘n wêreldwye bedreiging inhou. Diegene wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van daardie getuienis dra baie meer verantwoordelikheid vir die talle lewens wat verloor is in die stryd vir Irak.”

Roger Bacon, wie se seun Matthew gedood is deur ‘n bom langs die pad in 2005, het gesê: “Dit is verregaande. Dit is dubbele standaarde. Hierdie soldate het uitgegaan om hul beste te lewer vir ons en hier word hulle gejag maar nie die ou wat hulle ingestuur het nie.”

Die Hof beweer dat hulle nie die juistheid van Britse besluit om toe te tree tot die oorlog kan oorweeg nie.

ISIS-motorbom dood 120 in Bagdad

Minstens 120 mense is dood en 200 beseer in twee bomontploffings in Bagdad, Irak.

Reuters berig die eerste bom was in ‘n koeltrok versteek in ‘n besige markgebied in Karada.

‘n Tweede bom het langs ‘n pad ook in ‘n mark, die keer in al-Shaab, ontplof.

Albei aanvalle het omstreeks middernag plaasgevind.

Die Islamitiese Staat-militantegroep het aanspreeklikheid vir die aanvalle aanvaar.

Alhoewel ‘n onlangse oorwinning ISIS uit Fallujah gedryf het, is die groep nog lank nie verslaan nie, aangesien hulle deur ‘n staat of state befonds word en hulle internasionaal opereer.

Dit is dus nie ‘n probleem wat weggaan deur grondgebied van die terreurorganisasie weg te neem nie.

Kenners meen dat intelligensie-insameling – en nie net ‘n militêre operasie nie – nodig is aangesien daar talle ISIS-simpatiseerders in Bagdad is wat herhaaldelik sal probeer om aanvalle soos hierdie uit te voer.

In Karada heers ongelukkigheid, des te meer omdat die reregingslui verskans is binne die Amerikaanse Groensone, en nie uitgelewer is aan die geweld nie.

Bill en Loretta uitgevang dat hulle glo konkel oor Hillary

Nadat sy gedwing is om haar betrokkenheid by die Hillary Clinton e-pos-ondersoek te staak, het die Amerikaanse prokureur-generaal, Loretta Lynch erken dat haar skokkende onbesonne private vergadering met Bill Clinton ‘n skaduwee gewerp het oor haar loopbaan.

Haar vreemde besluit het sy as volg geregverdig: “Ek sou dit nie weer doen nie.”

Terwyl die Demokratiese Party se aanstelling, Lynch, beweer dat sy die besluit om te “onttrek” al dae voor haar ontmoeting met Bill Clinton geneem het, is die openbare mening nie oortuig van haar opregtheid nie.

Soos vroeër uiteengesit in berigte, het die gesette Amerikaanse prokureur-generaal Lynch Maandagaand “sommer toevallig” met Bill Clinton vir ‘n private vergadering in haar vliegtuig by ‘n Phoenix-lughawe op die aanloopbaan ontmoet.

Alhoewel Lynch almal verseker dat die enigste dinge wat bespreek is, Bill se gholfafslaan en sy kleinkinders is, het ‘n konserwatiewe waghond Judicial Watch versoek dat die Inspekteur-generaal ondersoek instel na die vergadering.

Die verslae het druk verskerp op Lynch om weg te staan van die oorsig oor die federale ondersoek na Hillary se private e-posbediener.

‘n Amptenaar van die Amerikaanse departement van justisie het gesê dat Loretta Lynch van voorneme is om enige aanbevelings deur federale agente in die ondersoek te “aanvaar”.

Maar sal inligting oor Hillary Clinton se ongeoorloofde gebruik van eposse werklik deur Lynch vrygestel word?

Dit is bekend dat Lynch gereeld ander aanbevelings van die FBI en departement verontagsaam.

Dit laat kwellings toeneem dat die Clinton-kamp nie sal skroom om die komende presidentsverkiesing op die mees laakbare maniere te beïnvloed nie.

Skokbesluit van Boris Johnson se vertroueling lei tot sy bedanking

Een van die groot Brexit-voorstanders en Britse minister van justisie, Michael Gove, het in skokaangekondig verklaar dat hy verkiesbaar is om David Cameron as Brittanje se eerste mi­nister op te volg.

Hy het terselfdertyd ’n skerp aanval van stapel gestuur op sy referendum-bondgenoot, Boris Johnson, wat intussen sy uittrede aangekondig het.

“Ek wou help bou aan die span agter Boris Johnson sodat ’n politikus wat ten gunste van Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) ’n veldtog gevoer het, ons na ’n beter toekoms kan lei,” het Gove gesê.

“Ek het egter tot die slotsom gekom dat Boris nie die leierskap kan bied of die span kan bou vir die taak wat voorlê nie. Om dié rede het ek besluit om my vir die leierskap beskikbaar te stel,” het hy bygevoeg.

Die aankondiging is ’n gevoelige slag vir die voormalige burgemeester van Londen, wat ook sy kandidatuur wou aankondig.

Selfs meer dramaties nog: Teen 11:53 voormiddag, net sewe minute voor die afsnytyd om die Toryleierskapstryd te betree, het Johnson kop uitgetrek.

Gove was aanvanklik geoormerk as ’n potensiële minister van finansies in ’n Johnson-regering, maar die momentum het nou skerp in die rigting van die minister van binnelandse sake, Theresa May, geswaai. Sy het reeds haar kandidatuur aangekondig.

Boris Johnson het gesê die verantwoordelikheid vir die implementering van Brexit is nou aan “iemand anders” toevertrou na hy homself dramaties uit die wedloop onttrek het.

Op ‘n vraag of hy “verraai” voel deur sy langtermyn-vriend en kollega het hy geantwoord: “Ek kan ongelukkig nie verder gaan om te doen wat ek wou doen nie, so dit sal nou iemand anders wees en ek wens hom alle moontlike sukses toe.”

Johnson het gesê hy het geen berou oor die veldtog nie en vra mense om positief te bly. Hy het die kritiek Michael Heseltine as “volledige nonsens” afgemaak.

Aan die Arbeidersparty se kant staar Jeremy Corbyn, wat Dinsdag ’n gevoelige slag toegedien is toe partylede ’n mosie van wantroue teen hom aanvaar het, groot uitdagings in die gesig.

Albei partye is in chaos gedompel ná Donderdag se referendum waarin Britte gestem het om uit die Europese Unie te tree.

Die president van die Bank van Engeland het intussen aangedui dat rentekoerse aanstande maand waarskynlik verder verlaag sal moet word in reaksie op Brittanje se besluit om die Europese Unie te verlaat.

Die president, Mark Carney, sê die onsekerheid wat deur die onttrekking aan die EU geskep is, kan vir ‘n geruimte tyd nog ‘n uitwerking hê op die land se ekonomie.

Hy sê die sentrale bank sal alles in sy vermoë doen om dit teen te werk.

Landmyn eis agt na VSA se nuwe ambassadeur in Somalië land

‘n Landmynontploffing het dié week minibus net buite die Somaliese hoofstad, Mogadishoe aan flarde geruk en die lewens van minstens agt mense geëis en talle beseer, het ‘n ooggetuie gesê.

Niemand het onmiddellik aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar nie, maar die Somaliese terreurgroep, Al-Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het, het in die verlede ‘n string soortgelyke aanvalle uitgevoer.

Al-Sjabaab-djihadiste is in 2011 uit Mogadishu verdryf, maar hulle bly steeds ‘n bedreiging in Somalië en naburige Kenia, waar hulle gereelde aanvalle uitvoer.

Hulle veg om Somalië se internasionaal-erkende regering omver te werp.

Die aanslag kom selgs ‘n dag nadat die VSA se nuwe ambassadeur na Somalië sy geloofsbriewe oorhandig het.

Volgens die Somaliese owerhede sal die nuwe ambassadeur met die bestaande [diplomatieke] benaderings misluk.

‘n Senior amptenaar het gesê die aanstelling van Stephen Schwartz as ambassadeur in Somalië is ‘n “historiese geleentheid” vir die Verenigde State om die “Turkse model” van ontwikkeling te gebruik.

“Grawe putte, herbou paaie, rig hospitale op net soos Turkye besig is om in Somalië te doen.”

“Hy het gesê sekuriteitbedrywighede soos hommeltuigaanvalle is nie ‘n beleid wat vrugte sal afwerp nie. Die soort benadering sal nie slaag sonder politieke stabiliteit nie, het die amptenaar gesê.

Die Verenigde State het ‘n aantal hoëprofiel-leiers van die radikale Islamitiese groep al-Sjabaab oor die jare met hommeltuie in militêre operasies gedood.

Somalië het ‘n beroep op die nuwe ambassadeur gedoen om nie kanale soos die Afrika-unie te raadpleeg in die hantering van politieke kwessies in Somalië nie.

Soeke na bewyse oor dood van Mississippi-aktiviste gestaak

Meer as ‘n halfeeu ná die dood van pro-swart aktiviste in Mississippi, waarop die rolprent, Mississippi Burning gegrond is, is die soeke na bewyse gestaak om meer mense te vervolg.

Maar die heksejag teen die vermeende daders van die 1964 “Freedom Summer”-moorde van drie pro-swart aktiviste in Mississippi se Neshoba-distrik meer as ’n halfeeu ná hul dood, duur voort.

Sommige inwoners van Mississippi en die slagoffers se naasbestaandes sê hulle sal nie rus voor die skuldiges aan die kaak gestel is nie.

Mississippi se prokureur-generaal, Jim Hood, het verlede week gesê daar is geen manier om verdere getuienis in te samel om die oorblywende verdagtes in die dood van James Chaney, Andrew Goodman en Michael Schwerner aan te keer nie.

Die drie mans, skaars uit hul tienerjare, is op 21 Junie 1964 glo deur lede van die Ku Klux Klan om die lewe gebring. Die verdagtes is nou bejaarde mans.

Diegene wat die verdagtes geken het, is ook bejaard. Vir jonger inwoners van Mississippi is hul enigste herinnering aan die gebeure die 1988-rolprent, Mississippi Burning.

Familielede van Chaney, Goodman en Schwerner, en ander inwoners van die staat sê die soeke na geregtigheid om maatskaplike genesing te bring, is nog nie verby nie.

Chaney, Goodman en Schwerner het verdwyn nadat hulle die Neshoba-distrik besoek het om ondersoek in te stel na die afbrand van die Mt. Zion United Metodiste kerk.

Die drie mans, twee Joods en een swart, se oorskot is weke later in ’n gronddam aangetref. Ná ’n ondersoek deur die Federale Speurdiens is agt mense in 1967 skuldig bevind aan die skending van federale menseregte wat met die moorde verband gehou het.

Die finale vervolging het in 2005 begin toe Hood en die Neshoba-distrik se prokureur met welslae drie klagte van menseslagting teen ene Edgar Ray Killen, aanhangig gemaak het.

Hy dien steeds gevangenisstraf uit. Mississippi het tans honderde verkose swart leiers. Desnieteenstaande bly die bevolking, wat rasse betref, gepolariseer.