ISIS-motorbom dood 120 in Bagdad

Minstens 120 mense is dood en 200 beseer in twee bomontploffings in Bagdad, Irak.

Reuters berig die eerste bom was in ‘n koeltrok versteek in ‘n besige markgebied in Karada.

‘n Tweede bom het langs ‘n pad ook in ‘n mark, die keer in al-Shaab, ontplof.

Albei aanvalle het omstreeks middernag plaasgevind.

Die Islamitiese Staat-militantegroep het aanspreeklikheid vir die aanvalle aanvaar.

Alhoewel ‘n onlangse oorwinning ISIS uit Fallujah gedryf het, is die groep nog lank nie verslaan nie, aangesien hulle deur ‘n staat of state befonds word en hulle internasionaal opereer.

Dit is dus nie ‘n probleem wat weggaan deur grondgebied van die terreurorganisasie weg te neem nie.

Kenners meen dat intelligensie-insameling – en nie net ‘n militêre operasie nie – nodig is aangesien daar talle ISIS-simpatiseerders in Bagdad is wat herhaaldelik sal probeer om aanvalle soos hierdie uit te voer.

In Karada heers ongelukkigheid, des te meer omdat die reregingslui verskans is binne die Amerikaanse Groensone, en nie uitgelewer is aan die geweld nie.

Islamitiese Staat aanvaar verantwoordelikheid vir Irak-aanvalle

Selfmoordbomaanvalle het die lewens van minstens 24 mense Maandag in Irak geëis.

Intussen vlug duisende inwoners uit die strategiese stad Hit, wes van Bagdad, wat deur Islamitiese militante bedreig word.

Die Islamitiese Staat (IS), wat dele van die noorde en die weste van Irak beheer, het op die Amaq-nuusblad verklaar dat hulle verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar.

Volgens amptenare het die aanvallers onder meer lede van ’n Sjiïtiese militêre groep geteiken.

‘n Motorbom het in Basra, die grootste stad in Irak, ontplof. Minstens vyf mense het omgekom.

Die bom het ook ‘n konvooi van ‘n koalisie van Sjiïtiese soldate, die PMF, geteiken en nog vyf mense is in dié voorval dood.

Vyf mense is ook dood toe selfmoordbomaanvallers hulself by militêre punte in Bagdad ­opgeblaas het.

In die suidelike stad Nassiriya is minstens vier lede van die PMF-groep buite ’n restaurant in ’n selfmoordbomaanval dood.

Twee lede van die regeringsmagte is in die weste van Bagdad in ’n motorbom-aanval dood en ’n derde lid in ’n ontploffing in die suide van dié stad.

Twee mense is dood in ’n mortierbomaanval in die Abu Ghraib-distrik.

Australië stuur troepe teen ISIS

Australië het gister aangekondig dat nóg 300 troepe na Irak gestuur sal word as ‘n gesamentlike sending met Nieu-Seeland om te help om plaaslike magte op te lei wat teen ISIS veg.

Die besluit volg nadat verlede week in Wellington, Nieu-Seeland, besluit is om sowat 140 soldate in ‘n nie-gevegsending te ontplooi om Irak se militêre kragte te versterk om teen Moslemjihadiste te veg.

Die eerste minister van Australië, Tony Abbott, het gesê die besluit volg op ‘n formele versoek van die regerings van Irak en Amerika.

“Ek wil beklemtoon dat ons die besluit nie ligtelik geneem het nie. Op die ou end is dit Irak wat ISIS moet verslaan, maar ons wil nie die Irakiërs op hul eie los nie,” het hy aan verslaggewers in Canberra gesê.

“Ons staan bekend as vredeliewende mense en ons is traag om by konflikte ver van hier betrokke te raak, maar soos ons weet, het hierdie konflik nou al vir maande na ons uitgereik.”

Sowat 170 Australiese spesiale magte is reeds in Irak om te help om regeringstroepe op te lei en Abbot het gesê dit is in sy land se nasionale belang om hul teenwoordigheid te versterk.

“Ek beklemtoon dat dié dodelike kultus (ISIS) na ons land deurgesypel het. Sowat 100 Australiërs veg saam met IS en ander terroristegroepe in Sirië en Irak,” het hy gesê.

“Nog sowat 150 wat hierdie ekstremiste ondersteun, is hier ter lande, dus is hierdie verbintenis ‘n kwessie van binnelandse asook internasionale sekuriteit. Ek beklemtoon dat dit absoluut in Australië se nasionale belang is om dit te doen.”

Australiese en Nieu-Seelandse troepe sal vanaf Mei by die militêre basis in Taji, noord van Bagdad, gestasioneer wees.

Sedert Augustus het Amerika saam met geallieerdes, Australië ingesluit, ‘n veldtog van lugaanvalle teen jihadiste in Irak en Sirië van stapel gestuur.

Australië se rol is beperk tot ondersteuning in lugvaart, opleiding, raadgewing en intelligensie.

Die land het met 2 000 troepe in die oorlog gehelp in Amerika se koalisie in Irak sedert Maart 2003, totdat hulle in 2009 onttrek het. Geen Australiër het nog tydens die oorlog of operasionele diens tydens ontplooiing omgekom nie.

Soennie-geweld in Irak duur voort

iraqBomme wat in motors en langs die pad in Bagdad ontplof het, het minstens 19 mense gedood in Irak.

Die dodelikste aanval het in die hoofsaaklik Sjiïtiese gebied, Shaab plaasgevind, waar minstens 9 mense dood en 25 beseer is.

Soennitiese insurgente het hul aanslae op die Irakse sekuriteitsmagte en ondersteuners van die premier, Nuri al-Maliki die afgelope tyd verskerp.

Militante wat bande met al-Kaida het, het ook beheer oorgeneem van Ramadi en Falluja, wat die grootste stede in die Soennities-oorheersde provinsie, Anbar is.

Inwoners het intussen in groot getalle van die sporadiese gevegte wat uitbreek, begin vlug.

Die VSA sal die Irakse regering bystaan in sy stryd teen al-Kaida-verbonde Soennitiese militante in die Anbar provinsie.

Die land sê hy sal egter geen troepe terug na Irak stuur nie.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry sê Washington is besorgd oor die gebeure in Anbar. Hy het nie uitgewy oor watter vorm die hulp sal aanneem nie.

Washington het al verskeie kere aan Premier Maliki aanbeveel dat hy ‘n magsdelingooreenkoms met die Soennitiese minderheid aangaan. – RSG

Dodelike aanvalle eis 80 lewens in Irak

bagdad‘n Aantal gekoördineerde bomontploffings in die Irakkese hoofstad, Bagdad, het die lewe van minstens 80 mense geëis en duisende mense beseer.

Die ontploffings wat tydens spitsverkeer plaasgevind het, het glo Sjia-woonbuurte geteiken. In die noordelike omgewing van Kadhimiyah, die tuiste van ‘n prominente, goudkoepel Sjia–heiligdom, is die ergste getref.

Twee bomme het afgegaan in ‘n parkeerterrein, gevolg deur ‘n selfmoordbommotor wat toeskouers wat op die toneel saamgedrom het, geteiken het. Polisie het gesê 10 mense is dood en 27 gewond in die aanval.

In nog ‘n ontploffing, Dinsdag, is sewe mense in die suidooste van Bagdad dood.

Geweld het in onlangse maande weer in Irak opgevlam te midde van verhoogde spanning tussen Soenni- en Sjia-Moslems.

Sover vanjaar het geweld die lewe van meer as 4 000 burgerlikes geëis; nog bykans 1 000 is beseer.