Meer as ‘n halfeeu ná die dood van pro-swart aktiviste in Mississippi, waarop die rolprent, Mississippi Burning gegrond is, is die soeke na bewyse gestaak om meer mense te vervolg.
Maar die heksejag teen die vermeende daders van die 1964 “Freedom Summer”-moorde van drie pro-swart aktiviste in Mississippi se Neshoba-distrik meer as ’n halfeeu ná hul dood, duur voort.
Sommige inwoners van Mississippi en die slagoffers se naasbestaandes sê hulle sal nie rus voor die skuldiges aan die kaak gestel is nie.
Mississippi se prokureur-generaal, Jim Hood, het verlede week gesê daar is geen manier om verdere getuienis in te samel om die oorblywende verdagtes in die dood van James Chaney, Andrew Goodman en Michael Schwerner aan te keer nie.
Die drie mans, skaars uit hul tienerjare, is op 21 Junie 1964 glo deur lede van die Ku Klux Klan om die lewe gebring. Die verdagtes is nou bejaarde mans.
Diegene wat die verdagtes geken het, is ook bejaard. Vir jonger inwoners van Mississippi is hul enigste herinnering aan die gebeure die 1988-rolprent, Mississippi Burning.
Familielede van Chaney, Goodman en Schwerner, en ander inwoners van die staat sê die soeke na geregtigheid om maatskaplike genesing te bring, is nog nie verby nie.
Chaney, Goodman en Schwerner het verdwyn nadat hulle die Neshoba-distrik besoek het om ondersoek in te stel na die afbrand van die Mt. Zion United Metodiste kerk.
Die drie mans, twee Joods en een swart, se oorskot is weke later in ’n gronddam aangetref. Ná ’n ondersoek deur die Federale Speurdiens is agt mense in 1967 skuldig bevind aan die skending van federale menseregte wat met die moorde verband gehou het.
Die finale vervolging het in 2005 begin toe Hood en die Neshoba-distrik se prokureur met welslae drie klagte van menseslagting teen ene Edgar Ray Killen, aanhangig gemaak het.
Hy dien steeds gevangenisstraf uit. Mississippi het tans honderde verkose swart leiers. Desnieteenstaande bly die bevolking, wat rasse betref, gepolariseer.
