Blonde slimkop se dood skok Pukke

Studente op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) was Maandag geskok na die skielike dood van ‘n blonde slimkop eerstejaarstudent aan breinvliesontsteking.

Prof. Herman van Schalkwyk, kampusrektor, en prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het hul medelye teenoor die meisie se familie en vriende uitgespreek.

Leana Labuschagne (19), wat ‘n geoktrooieerde rekenmeester wou word, was ‘n inwoner van die Oosterhof-koshuis.

Sy was die naweek nog blakend gesond en het Sondagnag begin siek voel en gekla oor naarheid en hoofpyn.

Sy is in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Potchefstroom opgeneem, maar is dood aan aansteeklike meningokokkale meningitis (breinvliesontsteking) nog voordat haar ma van Pretoria in Potchefstroom kon aankom.

Dr. Emile Kotzé, kampusgeneesheer, het Maandag in ’n verklaring gesê dit word as ’n geïsoleerde geval beskou.

Leana was ‘n oudleerling aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria.

Sy sou Vrydag haar laaste vraestel voor die vakansie skryf. Leana se pa, Leon, is drie jaar gelede aan ‘n hartaanval oorlede.

Haar jonger sussie, Marli, ’n gr. 8-leerling aan Waterkloof.

‘FW wou nie luister nie’ – genl. Constand Viljoen

“Die ou NP en selfs mnr de Klerk was polities steriel en het nie geluister na raad en lesse uit die baie insurgensiebotsings nie.” Só sê genl. Constand Viljoen, voormalige hoof van die SAW in ‘n epos wat aan verskeie Afrikaanse organisasies en aktiviste gerig is. Hy het insgelyks die standpunt van dr. Dan Roodt van PRAAG beaam dat die NP onder De Klerk strategies onbeholpe was. Genl. Viljoen sê:

“Die beginpunt (van Afrikanerherlewing) is om saam te stem dat daar in 1994 ongelooflike strategiese flaters gemaak is. Die ou NP en selfs mnr De Klerk was polities steriel en het nie geluister na raad en lesse uit die baie insurgensiebotsings nie. Natuurlik moes in ons land verandering kom. Maar die inploffing was nie nodig nie, veral die rigting na ‘n unitêre staat een-mens-een-stem-wenner-neem-alles. Ons weet almal dat die toenmalige regering onder druk van orals was. Maar die militêre vermoë was nog so sterk dat ons onderhandeling meer brinkmanship kon openbaar het.”

Genl. Viljoen, wat die stigter van die Vryheidsfront in aanloop tot die 1994-verkiesing was, het hom verder teen Afrikanerbinnegevegte in die huidige tydvak uitgespreek en dit as “volkselfmoord” bestempel. In sy epos sê hy:

“Interne gevegte op hierdie stadium is volkselfmoord. Dit gaan ons nêrens bring nie. Ek glo in die laaste boodskap van Paul Kruger: Erken eers uit die verlede wat ons in hierdie situasie laat beland het, kom dan bymekaar en soek na alterniewe en daar is sulke moontlikhede. Ek het nie meer baie jare voor nie maar is bereid om alles in te sit om ons volk uit hierdie ellende te kry.”

Hy het hom ten gunste van onderlige gesprek tussen Afrikaners uitgespreek en meen dat “ons vyand nie meer bang of respekvol is nie”:

“Waarna ek soek, is ernstige onderlinge gesprek en die hoop dat daaruit verstandige, werkbare alternatiewe  sal voortspruit. wat genoegsame steun sal kry om skrumkrag binne ons volk te genereer. Ons vyand is nie meer bang of respekvol  nie. ‘n Flentergat-Afrikanergroepering gaan nie indruk maak nie.”

Kovsies beplan burokratiese aanslag op Afrikaans

Die Universiteit van die Vrystaat het haastig ‘n taalkomitee op die been gebring nadat ‘n herrie losgebars het oor die UV se besluit om slegs Engels as voertaal in te stel.

Die taalkomitee gaan glo in November verslag doen aan die universiteitsraad na “oorlegpleging”.

Kovsies beplan glo ‘n “formele hersiening” van die taalbeleid by die instelling en dit wil voorkom asof ‘n burokrasie van organisasies met ‘n “mandaat” gebruik sal om Afrikaans aan te val aangesien die universiteit groot klem lê op “deelname”.

Kovsies sal volgens bronne drie uitkomste oorweeg, naamlik parallelmediumonderrig, aanpassings aan die huidige taalbeleid of “groot veranderinge”.

Daar is dus kennelik geen manier waarop Afrikaans in sy huidige vorm by die UV sal oorleef nie.

Die raad het intussen die JBM Hertzog-koshuis se naam vernader na Beyers Naudé House.

Vermoorde boer se familie bly oor skuldigbevinding

Die familie van die boer van Noordwes wat deur twee Zimbabwiërs vermoor is, is tevrede dat die beskuldigdes deur die Hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind is, het RSG berig.

Bismack Dik en Samuel Mabena het die 65-jarige Mauritz Oberholzer in September 2012 op sy plaas buite Brits aangerand en doodgeskiet.

Hulle sal in aanhouding bly tot en met hulle vonnisoplegging op die 24 ste van die maand.

Mabena dien reeds ‘n 43-jaar vonnis uit weens sy rol in die moord op die voormalige bokskampioen, Corrie Sanders.

Vermeende plaasmoordenaars was eers werkers

Die twee vermeende swart moordenaars, Frank Itumeleng (22) en Ben Thabo (19), wat teregstaan vir die moord op ‘n 64-jarige boer van Kuruman, Christo Kruger, het Maandag vlugtig in die landdroshof op Kuruman verskyn.

Kruger is op 28 Mei in sy plaashuis se agterdeur, omstreeks 20:00 doodgeskiet.

Hy en sy vrou, Vera, was alleen in die huis tydens die voorval.

Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê die saak is uitgestel tot 15 Junie vir verdere ondersoek.

Hy sê die verdagtes het voorheen vir Kruger gewerk, maar nie ten tye van die voorval nie.

Twee vas vir Kuruman-plaasmoord

Twee swart mans is in hegtenis geneem in verband met die moord van ‘n 64-jarige boer van Kuruman in die Noord-Kaap.

Christo Kruger is in koele bloede vermoor op sy plaas Byron op 28 Mei vandeesjaar. Niks is tydens die aanval gesteel nie.

Kruger is deur die swart aanvallers in die bors geskiet deur die geslote sekuriteitshek van sy huis.

Kruger en sy 55-jarige vrou, Vera, was alleen by hul huis. Sy was fisies ongedeerd tydens die voorval.
 
Noord-Kaapse polisiewoordvoerder Sergio Kock sê die twee is Saterdagnag in die Bankara-lokasie gevang.

Die een is 19 en ander een 22.

Hulle sal vandag in die landdroshof in Kuruman verskyn.

Sedert die moord op Kruger is agt nuwe aanvalle aangeteken waarin drie mense gedood is.

■ Danie Robertse (43), van Buffelspoort in Noordwes, is steeds in die hospitaal aan nadat hy in sy skouer, linker- en regterbeen geskiet is.

■ In Ladybrand is Bill Clark (45) van die plaas Zuurbult met ‘n mes gesteek.

■ Andries Snyman (59) is in sy huis op ’n hoewe in Rashoop naby Brits met ’n mes doodgesteek.

■ Peter Johnston (56) van ’n suikerrietplaas in die Nyoni-omgewing by Eshowe in KwaZulu-Natal is dood nadat hy in die bors geskiet is. Sy broer Ian (54) is in die gesig geskiet.

■ Gewapende rowers het Erick Meiring (64), ’n plaasbestuurder in die Komatipoort-omgewing, oorval, vasgebind en aangehou.

■ ’n 57-jarige vrou van Bokfontein buite Brits is deur gewapende rowers oorval.

■ Rodger van Parys (71) van ’n plaas tussen Mooinooi en Rustenburg is in ’n kritieke toestand nadat sy aanvallers ’n swaard in sy keel afgedruk het.

Clive Derby-Lewis gemuilband deur paroolvoorwaardes

Die lewenslange politieke gevangene en voormalige KP-parlementslid, Clive Derby-Lewis, is vir alle praktiese doeleindes die swye opgelê deur die strengste paroolvoorwaardes wat enige oudgevangene in die land nóg ontvang het. Die paroolvoorwaardes is so streng dat ‘n biografie oor die oudpolitikus deur die aktrise en skryfster Elma Potgieter, en wat in beginsel vir publikasie deur Uitgewery Praag goedgekeur is, dalk in die gedrang mag kom.

Dr. Dan Roodt van Praag sê: “Ek het aan die begin van die week met mev. Gaye Derby-Lewis gesels, maar toe het sy nog nie geweet wat die voorwaardes vir Clive se mediese parool gaan wees nie. Sedertdien het ek nog nie weer met haar gepraat nie, maar die feit dat hy glad nie met die media mag praat nie en verbied word om onderhoude te voer, mag die publikasie van Elma Potgieter se boek oor hom in die gedrang bring. In weerwil van sy ander gebreke en dubbelsinnighede, waarborg die huidige grondwet van Suid-Afrika spraakvryheid aan elkeen, selfs ‘n oudgevangene soos mnr. Derby-Lewis. Hy behoort tog oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en sy lewe in die politiek te mag praat? Terroriste soos Robert McBride wat veel erger misdade as Derby-Lewis gepleeg het, word geensins die swye opgelê nie.”

Volgens berigte elders, verkeer Derby-Lewis onder ‘n soort huisarres omdat hy nie eens sonder toestemming in die straat mag loop of kerk toe gaan nie, nóg ‘n glas wyn of bier of ander alkohol drink nie. Hy word streng dopgehou en sy paroolbeampte is die departement van korrektiewe dienste se waarnemende streekkommissaris in Gauteng.

Mev. Clive Derby-Lewis het aan Rapport gesê dat haar man “’n werk as ‘administratiewe beampte’ aangebied (is) wat hy uit sy slaapkamer sal kan doen”.

Volgens haar is “hy baie moeg van al die opwinding en moet hy homself dwing om te eet omdat hy vanweë die chemoterapie nie ’n aptyt het nie.

“Ek dwing hom om te eet anders sal hy te swak wees om die longkanker te probeer beveg. Dokters het hom net ses maande gegee om te leef, maar ons glo net die almagtige God sal besluit wanneer dit sy tyd is om te gaan,” sê sy.

Derby-Lewis word verder “vir hipertensie en hartversaking behandel. Die prostaatkanker wat vroeër by hom gediagnoseer is, verkeer in remissie”. Sy meen dat dit “fantasties” is om haar man, met wie sy sedert 1986 getroud is, tuis te hê, ná ‘n jare lange hofstryd teen die staat wat deur die Kommunistiese Party voorgesê is.

 

 

Vyf gewapende plaasaanvallers breek veiligheidshekke oop

Twee mans is beseer in ‘n plaasaanval by Rustenburg nadat vyf swartes toegang verkry het tot die woning deur ‘n veiligheidshek.

Die gewapende aanvallers het veiligheidsdeure oopgebreek, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.

Een van die huurders is in die bobeen geskiet en die eienaar is ook beseer.

Volgens berigte moes hy ‘n swaard sluk, maar die polisie kon nie bevestig of dit wel gebeur het nie.

Die eienaar se bakkie is steeds soek. Die aanvallers het met gesteelde items in die bakkie gevlug.

Geen van die vermeende aanvallers is nog in hegtenis geneem nie.

Ena Murray oorlede

Die koningin van Afrikaanse liefdesverhale, Ena Murray, is Donderdag in Mosselbaai aan natuurlike oorsake oorlede.

Die 78–jarige Murray is dikwels bestempel as die mees geleesde skrywer in Afrikaans.

OFM-nuus het met een van Murray se kindermaats, Veronica Marais, gesels oor hul grootword dae op Loxton, ook haar geboortedorp.

Marais sê sy onthou Ena as iemand met ‘n yslike verbeelding wat altyd goeie opstelle op skool geskryf het.

Murray se 55 jaar skryfloopbaan het 130 titels ingesluit. Sy is in 2013 deur die ATKV met ’n oorkonde vereer.

Afrikanererfenis beskadig in Burgersdorp

‘n Vryheidsoorlog-monument in Burgersdorp in die Oos-Kaap is in die vroeë oggendure met donkergroen verf bemors.

‘n Facebook-foto toon identifiseerbare EFF-lede voor die beskadigde monument.

Polisiewoordvoerder Ursula Roelofse het bevestig dat die monument van twee boerekrygers, wat in 1908 opgerig is, met verf gevandaliseer is.

Dit kom byna twee maande ná ‘n vlaag aanvalle op standbeelde en monumente regoor die land.

Dit is die jongste voorval in ‘n reeks voorvalle van vandalisme in die provinsie. Vroeër is die beeld van Koningin Victoria in Port Elizabeth en die Anglo-Boereoorlog-gedenksteen in Uitenhage ook beskadig.

Die Burgermonument is opgerig ter nagedagtenis aan die slag van Stormberg op 10 Desember 1899 tydens die Tweede Vryheidsoorlog, waarin dorpenaars omgekom het.

Twee van die boere-generaals, Koos Delarey en C.F. Beyers, het die onthulling van die monument in 1908 bygewoon.

Thembinkosi Mawonga, die munisipale bestuurder van dié dorp, het vroeër geweier om ‘n heining om die monument te plaas ten spyte daarvan dat die burgemeester, Ncedo Ngoqu, ingestem het.

In die week van 28 Julie verlede jaar is begin om die monument te omhein, maar toe kom die opdrag dat die werk dadelik gestaak moet word weens onenigheid tussen die burge­meester en die munisipale bestuurdeer.

Die Erfeniswet bepaal in afdelings 27, 29 en 34 dat alle provinsiale erfenisterreine beskerm moet word as dit ouer as 60 jaar is.

Die Burger- en Taalmonumente is 121 jaar oud.