Nog ‘n dag van amok in Durban, Johannesburg

Oproeriges het Maandag Jozini in die noorde van KwaZulu-Natal tot stilstand gedwing.

Die oproermakers versper paaie met vullis, en sake-ondernemings en skole moes sluit weens dreigemente van geweld.

Inwoners is glo ontevrede oor swak dienslewering, veral ‘n tekort aan water.

Twaalf mense wat vroeër in hegtenis geneem is op aanklagte van openbare geweld, verskyn vandag in die Jozini Landdroshof.

Net suid van Durban is die R-603 by Mbumbulu ook deur oproeriges versper.

Hulle het onder meer ‘n vragmotor en die kantore van die plaaslike raadslid en die onderwysdepartement aan die brand gesteek.

‘n Polisiewoordvoerder sê getalle van oproermakers het toegeneem deur die loop van oggend.

Die polisie monitor die situasie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Suid van Johannesburg, by Ennerdale en Lawley, is paaie deur oproeriges paaie versper.

Die Goue Hoofweg is ook met brandende bande en klippe onbegaanbaar gemaak.

‘n Woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, Edna Mamonyane vra motoriste om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Swart inwoners is ontevrede oor behuising en het leerlinge wat wou skool toe te gaan, afgedreig.

Manonyane het ook gesê nog beamptes moes ontplooi word om die situasie onder beheer te bring.

In Ennerdale sê leerlinge hulle is deur amokmakers geïntimideer en skoolbusse is nie in die woongebied toegelaat om deur te beweeg nie.

Inwoners is ontevrede oor die gebrek aan behuisingsontwikkeling in die gebied. Hulle sê die regering het twee jaar gelede ‘n stuk grond geïdentifiseer en onderneem om huise te bou. Tot dusver was daar geen ontwikkeling nie.

In Kaapstad word die MyCiti -busdiens in Table View word deur ‘n onbeskermde staking ontwrig.

Die burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Brett Herron sê busbestuurders in diens van een van die MyCiti-operateurs, Kidrogen verhoed ander busse om op omliggende roetes te werk.

Geen geweld is nog aangemeld nie.

Die stad Kaapstad sê bykomende busse is op roetes wat geraak word in die Table View-gebied ontplooi.

Oliefonds en polisiebegroting geplunder

Die Sentrale Energiefonds het sy verkope van olie verdedig, en sê Suid-Afrika het toegang tot 90 dae se brent ru-olie reserwes.

Die Fonds het gereageer op ‘n berig deur die Business Day-koerant dat die fonds tien miljoen vate ru-olie in ‘n geslote transaksie verkoop het sonder om toestemming van die Nasionale Tesourie te kry.

Die koerant beweer dat dit byna die hele reserwe-voorraad was.

Die Fonds sê egter die land het toegang tot drie maande se oliereserwes, wat Suid-Afrika sal toelaat om enige markskommelings te absorbeer.

Die direkteur van die fonds, Tseliso Maqubela sê die olie is in Desember aan ‘n eenheid van Glencore, Vitol and Taleveras, teen 28 dollar per vat verkoop.

Die Tesourie sal genader word deur opposisiepartye om strafregtelike aanklagte aanhangig te maak.

Intussen is ‘n klagte van wanbesteding by die Openbare Beskermer ingedien na berigte dat die polisie luukse voertuie ter waarde van miljoene rand vir die vroue van President Jacob Zuma gekoop het.

Die polisie het bykans nege miljoen rand van sy begroting aan voertuie vir Zuma se vyf vroue bestee.

NW bring kriminele klag teen munispiale bestuurder

Die Noordwes-wetgewer het, in ‘n ongekende stap, ‘n kriminele klag gelê teen die munisipale bestuurder van die Naledi Munisipaliteit, wat Vryburg insluit.

Die klag, minagting van die wetgewer, spruit uit ‘n voorval vroeër vandeesmaand toe Modisenyane Segapo tydens ‘n sitting van die staande komitee oor openbare rekeninge uitgestap het.

Segapo het voor die komitee verskyn om verslag te doen oor dié munisipaliteit se ouditeur-generaalsverslag vir die 2014/15-boekjaar.

Die voorsitter van die komitee, Mahlakeng Mahlakeng, sê Segapo moes vrae oor sowat R300 miljoen se onregmatige uitgawes beantwoord, maar het uitgestap en geweier om terug te kom.

Selfs nadat die burgemeester gestuur is om hom te gaan haal, het hy verseg om vrae te gaan beantwoord.

Kroonstad se waterkrisis Vrydag bespreek

Die munisipale bestuurder van die Moqhaka-munispaliteit en verskeie rolspelers vergader Vrydag om die waterkrisis in Kroonstad te bespreek.

Die woordvoerder van dié munispaliteit, Khojane Madiba, het aan OFM gesê hulle sal dan kommentaar op die kwessie lewer.

Die Bloemhoekdam, wat water aan Kroonstad verskaf, is nou minder as 1% vol.

Inwoners van die dorp het aan OFM-nuus gesê hulle vrees dat hulle binnekort geen water sal hê nie. Besighede in die dorp word ook geraak deur die krisis.

Gerhard Pretorius, eienaar van Pure Drop Water in Kroonstad, sê intussen dat die water nie noodwendig vuil is nie maar dat die vraag daarna vergroot.

‘n Waterkundige in Kroonstad, Theuns de Bruyn, is van mening dat die droogte en swak bestuur van die munisipaliteit van die hoofredes is vir die huidige waterkrisis.

Vroeër dié maand is berig oor ‘n soortgelyke waterkrisis in Qwaqwa in die Oos-Vrystaat.

Dit is volgens die Bakoena Koninklike Huishouding se woordvoerder, Dan Mbuli.

Mbuli sê omliggende dorpe word die ergste deur die situasie geraak.

Die Bakoena hoofman, Thokoana Mopeli, sal die verspreiding van 300 waterhouers (20 liter elk) onder Qwaqwa gemeenskappe oorsien.

“Sommige gebiede se dorpe het nie water sedert Junie verlede jaar nie. Water word versprei aan hulle deur verskeie organisasies en die munisipaliteit, selfs al is Qwaqwa ‘n opvanggebied vir die Vaalwaterskema.”

Die inwoners van Qwaqwa moet op watertenkwaens wat water vervoer, staatmaak.

Zuma meen sy kanse op sukses teen spioenasiebande is goed

Pres. Jacob Zuma meen sy kanse om met suskses te appelleer teen die hofbeslissing rakende spioenasie bande, is goed.

Sy regsverteenwoordiger Shaun Abrahams het Maandagoggend aangekondig dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sal appelleer teen die uitspraak.

Luidens die vroeëre hofbeslissing van die hooggeregshof in Pretoria in April, moet Zuma tereg staan op 783 klagte van rampokkery, korrupsie en bedrog. Die proses sal sowat ‘n jaar neem.

Die hof het bevind die besluit om die 783 klagte in 2009 teen Zuma te laat vaar, is “irrasioneel.”

Die klagte teen Zuma hou verband met betalings aan sy voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik wat namens die Franse maatskappy Thint betrokke was by die wapenskandaal, soos deur die grondwetlike hof bevind.

Abrahams sê die hooggeregs­hof se beslissing hou implikasies in vir die skeiding van magte.

“Ek glo hierdie kwessies moet deur ’n appèlhof beoordeel word. Ek het dus besluit om aansoek te doen om verlof tot appèl. Hier is baie kwessies waaroor uitsluitsel verkry moet word.“

Taxi-geweld eis motoris se lewe

‘n Motoris is in KwaMahlanga, oos van Pretoria aangerand en aan die brand gesteek ná ‘n skietery tussen hom en taxi-operateurs.

Volgens ooggetuies is die motoris na bewering deur die taxi-operateurs aan die brand gesteek. Die polisie het hom te hulp gesnel en hy is hospitaal toe gehaas.

Taxibestuurders het vroeg vanoggend na sporadiese aanvalle op hulle na die KwaMahlanga Taxivereniging opgeruk.

Verlede week is minstens vier mense in ‘n verbyry-skietery geskiet. Twee vroue is dood nadat hulle deur dwaalkoeëls getref is.

Daar word vermoed dat die geweld spruit uit geskille tussen strydende taxiverenigings.

Swart reeksmoordenaar voor

‘n Vermeende reeksmoordenaar verskyn na verwagting vandag in die Kestell-landdroshof nadat die polisie altesaam ses lyke uit vlak grafte op ’n plaas in die distrik gehaal het.

Lentsha Molefe (32), ’n seisoenwerker van Lesotho, is in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem nadat die lyke van twee vroue uit vlak grafte op die plaas Geduld gehaal is.

Volgens polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Thandi Mbambo, is nog vier lyke later op die plaas gevind nadat Molefe die grafte aan die polisie uitgewys het. Een van die slagoffers is die ma van Molefe se vierjarige dogter. Al die slagoffers was vroue, behalwe ’n driejarige seun.

Molefe verskyn in die hof op ses aanklagte van moord.

Polisie skiet oproerige in Oos-Kaap dood

‘n Betoger is naby Mount Ayliff in die Oos-Kaap dood tydens hernude oproer.

Die slagoffer was na bewering deel van ‘n groep oproeriges wat die R-61 tussen Magusheni en Fort Donald versper en die polisie aangeval het.

Die betogers eis elektrisiteit, padinfrastruktuur en die voorsiening van water en sanitasie.

‘n Polisiewoordvoerder sê die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sal die dood ondersoek.

Die polisie moes al herhaaldelik ingryp in die gebied.

Toeriste moes verlede jaar in Mei omdraai nadat hul motorruit stukkend geslaan is.

Die polisie in Kokstad het bevestig dat daar soortgelyke voorvalle was.

In die woorde van een toeris, Phillida Ellis, “het ons afgekom op ‘n woedende en baie aggressiewe skare mense en is gewaarsku om terug te draai deur ‘n motoris wat probeer het om deur te ry en en afgedreig is. Die betogers het vir hom gesê hulle betoog omdat hulle nie ‘n teerpad het nie.

Op pad na Kokstad naby Fort Donald, het Ellis en haar man afgekom op ‘n vernielde motor en ‘n man wat desperaat probeer om motoriste te stop.

Dit was ‘n Duitse toeris, Dr. Herbert Plum en sy vrou, wat die swart oproeriges teëgekom het.

Die vensters van hul huurmotor was verpletter met klippe en knuppels. Hulle is van die pad gedwing en het deur die veld probeer wegkom. Die onderstel van die motor is sodanig beskadig dat dit tot stilstand gekom het by Ford Donald.

Mevrou Plum was erg getraumatiseer en kon nie ophou huil nie. Terwyl hulle daar was, het nog toeriste van Gauteng ook gestop. Die voorste venster van hul Toyota Fortuner was ook stukkend geslaan.

Twee Rooi Miere gedood in uitsettingsgeweld

‘n Uitsettingsoperasie buite Pretoria het dodelik geëindig toe duisende plakkers slaags geraak het met Rooi Miere. Minstens twee is dood en ses ernstig beseer.

Plakkers uit Suurman, buite Hammanskraal, het busse aan die brand gesteek asook vragmotors, en paaie met rommel en brandende bande afgesper.

Drie busse is uitgebrand en inwoners het parte van die voertuie begin steel. Verkeer in die gebied is ook ontwrig.

Burgemeester Ramokgopa het die Hammanskraal geweld veroordeel, maar ook beloof om meer te doen om te verseker dat uitsettings met menslikheid uitgevoer word.

Die Rooi Miere het blykbaar aangekom kort nadat die meeste mense vir werk vertrek het.

Gemeenskapsleier Jakes Maleka het gesê: “Daar was geen waarskuwing nie, net ‘n hofbevel, maar dit dateer uit 2014.”

Terwyl inwoners hul huise Maandagaand herbou het, het hulle gereed gemaak vir die terugkeer van die Rooi Miere.

“Mense is woedend. Ons wag nou. Ons sal onsself bewapen en terugveg. Vier is vandag dood en indien meer terugkom sal hulle weer seerkry.”

Gemeenskapsleiers sê inwoners is die grond deur die tradisionele raad belowe en dat hulle dokumente het om dit te bewys.

Maar ‘n woordvoerder van Tshwane, Selby Bokaba het gesê sowat 16,000 huishoudings beset grond in Hammanskraal en omliggende gebiede onwettig.

Zuma verstewig greep op KZN

Ondersteuning vir President Jacob Zuma bly sterk, veral onder sy eie etniese groep.

Zuma se greep op sy tuisprovinsie is verder verstewig ná KwaZulu-Natal se premier, Senzo Mchunu, sy bedanking aangekondig het en ‘n bondgenoot van die president se Willies Mchunu, oorgeneem het.

Die twee is nie verwant nie.

Ander lede van die Mchunu-kabinet wat na verwagting die trekpas sou kry, is behou in nie provinsiale regering.

Die provinsie se ANC-ondervoorsitter en LUR vir vervoer, gemeenskapsveiligheid en skakeling het Maandagaand die leisels oorgeneem.

Die ANC sê Mchunu is gekies vir sy “senioriteit, ervaring en vaardighede wat hy gedemonstreer het in die regering en ons beweging”.

Senzo Mchunu sy bedanking aangekondig ná ‘n vergadering met provinsiale leierskap van die ANC Vrydag, waartydens hy die trekpas gegee is.

Die premier, voorheen ‘n stoere bondgenoot van president Jacob Zuma, het sy setel as provinsiale voorsitter verloor teen Sihle Zikalala in November en sedertdien het Zikalala se ondersteuners hulself openlik beywer om Mchunu te verwyder as premier.

Zikalala en Zandile Gumede as voorsitter van die streek eThekwini met 103 takke, is bekende Zuma-ondersteuners.