Nzimande: 0% fooitoename kan 19 universiteite ‘disfunksioneel’ maak

Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, sê hy sal binnekort aankondig hoeveel geld universiteite vir die 2017 akademiese jaar sal kry.

Nzimande het gereageer op ‘n verslag van die Raad vir Hoër Onderwys oor die vasstelling van die verhoging in klasgeld vir universiteite.

Die Raad het daarop gewys dat sowat 19 universiteite finansieel slegter af sal wees indien die voorgestelde nul persent verhoging toegestaan word.

As die verhoging op die verbruikersprysindeks, tans teen 6%, gebaseer word, sou sowat tien universiteite nie kan voortgaan nie.

Die Minister sê die verslag het ook aan die lig gebring dat die reuse onderbefondsing van universiteite ook onvermydelik die volhoubaarheid van die hoër onderwysstelsel bedreig.

Hy sê daar is nog geen besluit oor enige van die aanbevelings geneem nie.

Bloemfonteiners gaan gebuk onder vlaag rooftogte

Die polisie in Bloemfontein het ‘n ernstige beroep op inwoners gedoen om op hul hoede te wees en hul paraatheid te verskerp.

Dit kom te midde van ‘n hernude vlaag huisrooftogte die afgelope drie weke. Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê daar word hard gewerk om dié voorvalle te voorkom, maar inwoners moet ook hul kant bring.

Volgens hom is huisrooftogte ‘n traumatiese ervaring vir slagoffers. Dit word ook as een van die gevaarlike misdade beskou. Dié tipe rooftogte vind hoofsaaklik saans of oor naweke plaas, wanneer erwe verlate is.

Hy sê booswigte verkry toegang tot huise en breek deure en vensters. Veiligheidsdiefwering word ook gebuig of oopgesaag waarna waardevolle huisinhoud gebuit word. Marope stel voor mense sluit hul huisdeure, selfs al is hulle tuis. Vensters moet saans toe wees en alarmstelsels aangeskakel.

Skaf minstens twee honde aan om ‘n erf op te pas. Een hond kan binne in die huis gehou word, terwyl ‘n ander hond buite kan leef.

Wanneer nuwe goedere gekoop word, soos ‘n televisiestel, moet die verpakking waarin dit aangekoop is, nie buite die huis as deel van vullisverwydering gelaat word nie. Marope sê mense moet van die leë verpakkings by stortingsterreine ontslae raak.

Hy sê mense moet reeksnommers van waardevolle elektroniese ware wat hulle aangekoop het, bêre. Dit kan die polisie help om mense se besittings te identifiseer wanneer dit teruggevind word. Wees paraat en ken jou bure.

Meld verdagte mense en motors in woongebiede by ‘n polisiekantoor aan. Moet nooit toegang aan mense tot jou erf gee as jy nie weet wie hulle is nie, sê Marope.

Bron: OFM Nuus

Nuwe OB aangewys deur ad hoc-komitee

Die direkteur van Binnelandse Sake se Inligtingsbestuurseenheid, advokaat Busisiwe Mkhwebane is aanbeveel om die nuwe Openbare Beskermer te wees.

Die ad hoc-komitee wat die aanbeveling moes maak het vanmiddag drie ure lank beraadslaag oor wie die beste kandidaat is.

Die ander vier kandidate, regters Sirazj Desai en Erica Weiner asook advokaat Muvhango Lukhamaine en professor Bongani Majola is uitgeskakel.

Daar was eenstemmigheid onder al die partye, buiten die DA, oor Mkhwebane se aanstelling. Dit moet egter nog deur die Nasionale Vergadering bekragtig word.

Gerugte wil hê dat sy ‘n Zuma-ondersteuner is.

Mkhwebane is ‘n advokaat wat in die hooggeregshof optree. Sy was vir sewe jaar ‘n senior ondersoekbeampte in die kantoor van die Openbare Beskermer.

Sy het ook vir die Departement van Binnelandse Sake se afdeling belas met immigrasiekwessies gewerk. Mkhwebane het glo verskeie kwalifikasies in korporatiewe reg.

Onluste oor gratis universiteite by vier kampusse in Oos-Kaap

Onluste oor eise vir gratis onderwys vir arm swart studente veroorsaak ontwrigting by vier universiteitskampusse in die Oos-Kaap.

Die bestuur van die Walter Sisulu Universiteit het ‘n hofinterdik aangevra om orde te probeer handhaaf tydens lesings, te verhoed dat eiendom beskadig word of personeel geïntimideer en aangerand word, het die Daily Dispatch berig.

Studente van die Universiteit se Mthatha, Butterworth en Oos-Londen kampusse is in hegtenis geneem vir openbare geweld, huisbraak en diefstal, opsetlike saakbeskadiging en die besit van petrolhouers.

WSU se registrateur Khaya Maphinda het in ‘n beëdigde verklaring in die Grahamstadse Hooggeregshof gesê: “Personeel het gevlug die kampusse uit vrees vir hul persoonlike veiligheid en die veiligheid van hul voertuie, en het nie teruggekeer nie.”

Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) is ook lamgelê deur oproer, met lesings en toetse wat uitgestel is nadat sowat 300 Cosas-studente ‘n ingang na die Suidkampus afgesper het.

Studente is gewaarsku om die kampus Woensdag te vermy.

Die Verteenwoordigende Studenteraad het op Twitter gesê dat ‘n massavergadering met studente Dinsdag geëindig het met ‘n besluit om ‘n voorstel in te dien by die presidensiële kommissie van ondersoek vir hoër onderwys om ‘n verhoging van 0% te vra.

Die vergadering het ook gevra dat akademiese aktiwiteite voortgaan en diegene wat toetse gemis het, toegelaat word om te skryf.

Die Herald het NMMU-bestuur aangehaal wat sê dat geen verhoging in fooie die instelling finansieel sal ruïneer.

“Soos met alle universiteite, staar die NMMU finansiële beperkings in die gesig staar. Geen toename in fooie as (opsie) is nie volhoubaar nie,” het woordvoerder van die universiteit Zandile Mbabela gesê.

Rand daal na Valke op Gordhan neerswiep

Die DA het sy kommer uitgespreek oor berigte dat die minister van Finansies, Pravin Gordhan (foto), versoek is om môre by die Valke aan te meld en sê die stryd word nou op ‘n hoër vlak gevoer.

Volgens die brief wat Gordhan ontvang het, het die Valke hul ondersoek van vroeër vanjaar voltooi.

Dit hou verband met ‘n sogenaamde spioenasie-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens waarby Gordhan betrokke sou wees.

Die eenheid het na bewering gespioeneer op politici, onder wie President Jacob Zuma. Gordhan het voorheen reeds deur sy regsverteenwoordiger op die kwessie gereageer.

Die Inkomstediens, SAID het intussen ‘n rekenmeestersfirma Grant Thornton aangestel om ‘n forensiese ondersoek te onderneem na die modernisering- en tegnologieprogram wat in werking gestel is tussen 2007 en 2014 onder Gordhan.

Die Valke het reeds aangedui dat Gordhan, sy voormalige adjunk by die SAID Ivan Pillay, en drie ander senior voormalige amptenare krimineel aangekla kan word.

Die rand het intussen tot sy laagste vlak in drie weke teenoor die Amerikaanse dollar gedaal.

Die geldeenheid het in oornaghandel met bykans drie persent verswak teen die vernaamste internasionale geldeenhede na die nuus dat die Gordhan-ondersoek sal voortgaan.

Klasse by UKZN hervat na onluste, UJ-eiendom gebrand

Klasse by al vyf kampusse van die Universiteit van KwaZulu-Natal sal na verwagting vandag hervat word nadat dit gister weer opgeskort is.

Verlede week is lesings vir twee dae onderbreek weens studente-onluste oor ‘n verhoging in universiteitsgeld en ‘n aanlyn-aansoekproses om geldelike hulp.

Die woordvoerder van die Universiteit, Lesiba Seshoka sê ‘n berig op sosiale media dat lesings eers aanstaande week hervat sal word, is onwaar.

Hy sê lesings kan nie vir so lank onderbreek word nie aangesien die akademiese tyd vir vanjaar min is.

Seshoka sê die studente is bewus daarvan. Hy sê akademiese bedrywighede en voorbereidings vir die eksamen sal vandag voortgaan.

Intussen het die Congress of South African Students (Cosas) hom gedistansieer van ‘n protes wat by die Universiteit van Johannesburg gehou is oor gratis hoër onderwys.
 
Die polisie is ontplooi om die kampus na ‘n groep hoërskoolleerlinge en ‘n paar studente buite die Doornfontein-kampus van die Universiteit betoog het en eiendom aan die brand gesteek het.
 
Die studente is blykbaar gemobiliseer deur Cosas-takke van verskeie hoërskole regoor Johannesburg.

ANC-raadslid slaan dood neer toe DA Johannesburg oorneem

‘n ANC-raadslid in Johannesburg, Nonhlanhla Mthembu, het tydens die stemming om ‘n nuwe burgemeester aan te wys, ineengesyg en gesterf, blykbaar aan ‘n hartaanval. Hierna is die aanwysing van die burgemeester en die hoofsweep van die stad gekombineer (foto hier bo), en is Herman Mashaba en Kevin Wax onderskeidelik as eerste burger en hoofsweep aangewys. Beide Mashaba en Wax is van die DA, wat die ondersteuning van die EFF tydens die stemmery geniet het.

Mashaba het egter dadelik belowe om nóg meer fondse op die stad se nie-betalende swart inwoners te bestee deur te verklaar dat hy “die waardigheid van inwoners gaan herstel deur werk te skep en dienslewering te verbeter, veral in lokasies soos Alexandra”.

Mashaba het insgelyks belowe om korrupsie in Johannesburg hok te slaan, ‘n stad waar omkopery en ‘n geknoei rondom tenders algemeen is. Mashaba het gisteraand net voor sy verkiesing as burgemeester gesê:

“Van vanaand af word korrupsie tot openbare vyand nommer een verklaar. Ek verbind my en lê ‘n belofte af dat ons sal omsien na openbare geld wat misbruik is, en dit sal gebruik om waardigheid aan mense te verskaf. Ons gaan ‘n regering bedryf wat na u geld sal kyk.”

Oor dienslewering het hy gesê: “Mense sonder toilette wat verwag om in ‘n stad te woon wat wêreldklas is, is nie regverdig nie. Ons wil hê dat Johannesburg daardie voortreflike stad moet wees waarin mense sal wil woon.”

Mashaba is met 144 stemme teenoor die 125 van Parks Tau, die ANC se uitgaande burgemeester, verkies. Die hoofsweep sal Kevin Wax wees en die speaker Vasco da Gama, al drie van die DA.

Da Gama se naam het al vir heelwat gekorswel op sosiale media gesorg, aangesien dit dieselfde as dié van die beroemde Portugese seevaarder is.

Uit eerbied vir die ontslape Mthembu, het Mashaba besluit om nie gisteraand ‘n lang toespraak te lewer nie en dit eerder uit te stel na 13 September, wanneer hy sy inhuldigingstoespraak sal lewer.

EFF-lede op die openbare galery het voortdurend gesing om die DA se kandidate te ondersteun. Telkens as ‘n ANC-raadslid se naam uitgeroep is, het hulle geboe.

Amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die raadslede bygestaan om die verkiesings vir die drie posisies te hou.

Enkele kere het chaos gedreig sodat die stadsbestuurder Trevor Fowler sy hande vol gehad het om die ondersteuners van die EFF en ANC op die openbare galery te beheer. Tydens die stemmery vir die speaker, het verskeie raadslede hul stembriewe aan die publiek getoon alvorens hulle in die stembus geplaas is. Van die party-amptenare het hierteen beswaar gemaak. Die OVK het beslis dat die stemmery in die geheim moes plaasvind en dat, indien dit weer sou gebeur, die stemmery oorgedoen sou moes word.

Toe die ANC-lid wat voorheen daarvan beskuldig is dat hy EFF-raadslede wou omkoop om vir die ANC te stem, Dan Bovu, se naam aangekondig is, het die skare hom uitgejou. EFF-ondersteuners het hom as ‘n “gesoekte misdadiger” beskryf.

Staats- mediese fonds feitlik bankrot

Die Staatswerknemers- mediese fonds kan teen die einde van die jaar heeltemal insolvent wees indien drastiese stappe nie geneem word nie.

Dit sou beteken dat die tesourie die fonds te hulp sou moes snel of andersins dat die fonds saamgesmelt word met ‘n ander, sterker fonds. Alternatiewelik sal die voordele van die fonds se 1,8 miljoen lede drasties verminder moet word of ledegeld sal met ten minste 15% moet styg – twee keer die inflasiekoers.

Een van die redes waarom die fonds in die moeilikheid is, is omdat nuwe lede aansluit, net om daarna groot hospitaalkostes aan te gaan. Van die 5000 nuwe lede wat onlangs by die fonds aangesluit het, het 70% in die hospitaal beland, iets wat baie hoër as die gemiddeld vir ander fondse is.

Guni Goolab, die uitvoerende beampte van die skema sê: “Oor die afgelope ses maande het ons ‘n beduidende toename in eise gesien. Ons het vanjaar ‘n afname in ons reserwe gesien, maar dit word bestuur.”

Mediese fondse moet egter oor ‘n reserwe van ten minste 25% van jaarlikse eise beskik, terwyl verskeie bronne in die mediesefondsbedryf meen dat die staats-mediese fonds se reserwe tussen slegs 5% en 6% mag wees, ongeveer 20% onder die verpligte vlak. Dokumente wat aan die media gelek is, voorspel dat die skema se tekort vir die jaar tot R1,2 miljard kan styg, wat sou beteken dat sy reserwe teen Februarie 2017 op 2% te staan sou kom. Teen daardie tyd sou die skema insolvent wees en nie meer in staat om al sy verpligtinge na te kom nie.

Die Suid-Afrikaanse regering is ietwat teleurgesteld aangesien die staats- mediese fonds as ‘n proeflopie vir sy voorgenome nasionale gesondheidskema gesien word.

Maar dit is ook ‘n aanklag teen die Raad op mediese fondse wat lankal moes ingegryp het om die fonds binne statutêre riglyne te hou. Daar is nou planne om die reserwevlak van 25% te verminder ten einde “groot fondse” tegemoet te kom.

 

Caster se turf kan eersdaags sit

Die manlike vroue-atleet, Caster Semenya, het ‘n goue medalje in die 800-meterwedloop vir vroue by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gewen, maar nie almal is gelukkig met haar oorwinning nie.

Die kwellinge is geopper na ‘n aankondiging deur die president van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies, Sebastian Coe, dat die IAAF wéér die internasionale hof vir arbitrasie in sport gaan nader.

Die hof het vroeër beslis dat vroue-atlete nie onderwerp mag word aan ‘n reël wat ‘n beperking stel op die hoeveelheid testosteroon wat natuurlik voorkom nie.

Vroue wat bo ‘n testosteroondrempel van 10 nanomoles per liter toets sal moontlik belet word om mee te ding, en sal waarskynlik “vernederende en potensieel riskante maatreëls” in die gesig staar as hulle besluit om deel te neem indien die testosteroonbeleid heringestel word.

In 2015, het die Hof van Arbitrasie vir Sport die beleid vir twee jaar opgeskort.

Die Verenigde Nasies se uitvoerende hoof vir vroue, Phumzile Mlambo-Ngcuka, het Suid-Afrikaners gevra om voort te gaan om Semenya te ondersteun.

Veiligheid moes voor haar deelname opgeskerp word. Verskeie media-instansies berig dat Olimpiese amptenare bekommerd was oor Semenya se verskyning en dat dit tot onluste deur ondersteuners van mededingers sou kon lei en in fisieke geweld sou kon ontaard.

Behalwe dat Semenya onderhoude met die media geweier het, is die media deur die Olimpiese komitee verbied om met haar te praat.

Alhoewel Caster deur Media24 vir ‘n voorblad van YOU as ‘n vrou opgetooi is, is sy intussen met ‘n vrou getroud, te wete Violet Ledile Raseboya (foto van die twee hier bo).

Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Thomas Bach, het Brasilië geloof vir sy aanbieding van die Olimpiese Spele en sê dit is “puik” gedoen.

Bach het by die afsluitingseremonie van die 31ste Olimpiese Spele in die Maracana stadion in Rio de Janeiro gepraat.

Die Spele het 16 dae geduur en meer as 11 000 atlete van 206 lande en ‘n vlugtelingespan het daaraan deelgeneem.

Suid-Afrika het tien medaljes verower. Japan is die gasheer vir die volgende Olimpiese Spele in 2020.

DA-raadlid se moord: Valke arresteer gou-gou verdagte

Die Valke het binne enkele dae ‘n verdagte vasgetrek wat glo gekoppel kan word aan die moord op ‘n DA-raadslid.

Hy sal na verwagting vandag in die Postmasburg-landdroshof verskyn in verband met die moord op Johannes Baaitjies in die Noord-Kaap verlede Woensdag.

‘n Woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi, sê ‘n 29-jarige man is in hegtenis geneem by ‘n huis in Postmasburg Vrydagmiddag.

Die verdagte staan ​​tereg op aanklagte van moord en poging tot moord nadat ‘n Daniëlskuil-raadslid in die Mgcawu Distriksmunisipaliteit, verskeie kere geskiet is.

Baaitjies se liggaam is gevind langs ‘n pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg. Mulaudzi sê die Valke is “tevrede met die tydsverloop” van die ondersoek.

Hy sê die land moet trots wees op die kaliber van ondersoekbeamptes in die land. “In die meeste van hierdie gevalle het ons ‘n 100% suksessyfer en al ons gevalle [Valke] word ons [sake] nooit deur die hof uitgegooi nie.”

Mulaudzi sê ‘n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die 49-jarige oorledene niksvermoedend na sy dood gelok is. Baaitjies en ‘n sakevennoot was saam ten tyde van sy dood.

Die beseerde mede is steeds in ‘n kritieke toestand in ‘n plaaslike hospitaal.